Tiere maak ondersteuners trots
2011-02-17
DIE SRRadiators Young Peoples Krieketklub se eerste span het Saterdag weer eens verras en vir Victoriane op Coetzenburg met 18 lopies geklop. Peoples het eerste gekolf en 151/4 in 20 boulbeurte aangeteken. Dit was skitterende kolfwerk deur Lorenzo Jacobs (88) en hy is goed bygestaan deur Domonic Daniels (38). Die Tiere was altyd in beheer wat die veldwerk en boulwerk betref, en sodoende beperk hulle vir Victoriane tot 132/9 na 20 boulbeurte. Edwin Jacobs (3/27 in 4bb), Jarier Alexander (3/27 in 4bb) en Lee-John Julies (2/11 in 4bb) het goed geboul. Die tweede span het ook wraak geneem en hul derby teen Paarl die bordjies verhang en met 10 paaltjies afgeransel. Paarl II word uitgeboul vir ’n skamele 74 lopies danksy fantastiese boulwerk deur Tom Seckington (4/10), Dean Hendricks (2/10), Marlin Carolissen (1/9), Garren Fortuin (1/9) en Riaan Damonse (1/4). Peoples se twee aanvangskolwers, Melvyn Jackson (37 nun) en Mark Borchards (34 nun) behaal die wenlopies reeds in die 9de boulbeurt. Die derde span het ook met 10 paaltjies teen Paarl III geseëvier. Paarl word ook uitgeknikker vir net 69 lopies, danksy Grant Zugolo (4/9). Stanton Kamalie (30 nun) het goed gekolf. Saterdag speel die eerste span tuis teen Stellenbosch & Distrikte in ’n Jive Pro Twintig20 wedstryd, die tweede span het ’n loslootjie en die derde span speel teen Paarl-Oos III tuis in ’n 40 boulbeurt-wedstryd. Alle wedstryde begin om 11:00.
More
News
|