BERGRIVIER se eerste span het Saterdag op Laborie se krieketveld vir Drakenstein Edu I met 31 lopies geklop in hulle Jive Pro Twintig20 wedstryd.
Bergrivier word ingestuur om eerste te kolf op ’n blad wat moeilik was vir houespel vroeg in die oggend en verloor gou beide sy openingskolwers, maar Marquin Julies 33 (2x6 3x4) en Junaid Cassiem 37 (1x6 5x4 ) kom ruk die beurt mooi reg met ’n 50 plus vennootskap wat Bergrivier uiteindelik 125 laat aanteken.
Die tuisspan was gou in die moeilikheid op 2/7 in die vierde boulbeurt teen die vernietigende boulwerk van Ryan Mouton 1/7 en Fabian Arendse 2/20 en kon nooit weer herstel nie. Almal word uitgeboul vir 94 in 18 beurte. Goeie boulwerk is ook gelewer deur Ashwill de Vries (4/19) en Eaton Petersen (2/28).
Bergrivier speel sy laaste 20/20 wedstryd in die uitspeelronde hierdie Saterdag teen Worcester United Krieketklub op Bolandpark.