DIE afgelope naweek was daar gemengde sukses vir Drakenstein Edu se krieketspanne.
Saterdag op Labori het die eerste span vir Bergrivier in ’n Jive Pro Twintig20 wedstryd gepak. Die boulers het goed gevaar en danksy Dewald Bruintjies, 4/31, Chester Kuiler, 2/4, en Cheslin de Villiers, 2/14, die besoekers tot 125 lopies in 17 beurte beperk.
Drakenstein kon egter net 94 lopies aanteken, met Andrew Sampson, 34, die beste kolwer.
Sondag op Wellington het Drakenstein vir ’n groot verrassing gesorg deur die ligavoorloper, Piketberg, oortuigend met 6 paaltjies te klop.
Piketberg het eerste gekolf en het gesukkel teen die akkurate boulwerk van Gershwin Philander, 3/26, Chester Kuiler, 2/23 en Cameron Cupido, 2/36.
Die besoekers kon net 160 lopies aanteken. Die teiken was nie groot genoeg nie, en goeie kolfwerk van Nigel Fredericks, 51* en Chester Kuiler, 27, het Drakenstein die wenlopies in die 38ste beurt laat aanteken.
Die derde span stoom voort na die ligatitel nadat hy Northdene II Saterdag in Kraaifontein met 4 paaltjies geklop het. Northdene het eerste gekolf en is deur Lyall Pienaar, 4/13, Hirose Steenberg, 2/18 en Jade Harmse, 2/30 vir 116 uitgeboul. Goeie kolfwerk deur Franco Davids, 39*, het die Drakies binne 28 beurte laat wen vir ’n belangrike bonuspunt.
Saterdag reis die eerste span na Ceres vir hul Twintig20 wedstryd, die tweede span speel tuis teen Maties II in ’n Pro 20 wedstryd, terwyl die derde span hul ligaverpligtinge tuis afsluit teen Wellington III.