Hulpkreet: Ons kan nie voorbly by die diewe
2011-02-17
Anne Kruger
DIE publiek se geld word vermors - deur die diewe. So sê Drakenstein Munisipaliteit, wat vergeefs probeer om publieke fasiliteite te verbeter - net om dit voor hul oë te sien verdwyn. So is daar onlangs ’n parkie geopen langs die Groenheuwel biblioteek, met speeltoerusting vir die kinders. Die swaai het net een sitplek oor - die ander een se kettings is gesteel vir die metaalkettings. Die rondomtalie waarvoor die kinders so lief was, het oornag verdwyn - die hele metaalraam is losgekap uit die sement en weggedra. Die vraag is - het niemand dit sien gebeur nie? Hoekom word die diewe nie gerapporteer nie? Dit is mos onmoontlik dat niemand die kappery gehoort het nie? So wonder Anthea Abrahams, hoof van Gemeenskapsdienste by die Munisipaliteit. Sy het ook haar teleurstelling uitgespreek oor die wyse waarop die heining by die Bergrivier-krieketveld afgebreek is pas nadat dit opgerig is. By Newton-sportvelde is die helfte van die ondergrondse besproeiingspype oor ’n naweek uitgetrek. “Ons wil graag die gemeenskapsfasiliteite verbeter, maar as die gemeenskap nie eienaarskap neem nie, is dit tevergeefs. Dan mors ons net die publiek se geld.” Abrahams en Albert van der Merwe, hoof van parke en ontspanning, het ook hul kommer uitgespreek oor die wyse waarop mense munisipale fasiliteite vandaliseer, ten spyte van sekuriteitwagte wat die Munisipaliteit R130 000 per maand uit die sak jaag. “Maak nie saak hoeveel wagte daar is nie, indien die publiek nie oortreders rapporteer nie, sal dinge nie verander nie,” meen Abrahams. Sy het vandeesweek ’n beroep op inwoners van Drakenstein gedoen om die oë en ore van die Munisipaliteit te wees, en enige onwettige optrede op munisipale terreine te rapporteer. Inwoners word ook aangemoedig om komitees te vorm wat parke moniteer. Vir navrae, skakel Albert van der Merwe by 021-807-6301. Mense kan enige tyd van die dag of nag, die munisipaliteit (021-807-4500) of die brandweer (021-872-2323) skakel om oortredings aan te meld. - Anne Kruger
More
News
|