PAARLIET Adriaan Louw het die afgelope naweek die bronsmedalje verower in die o.23-wedren by die Afrika Kampioenskapsbyeenkoms vir bergfietse in Jonkershoek buite Stellenbosch.
Louw, van die Contego/Giant/Sludge-span is geklop deur James Reid (eerste plek) en Dominic Calitz (tweede plek).
Ongeveer 100 bergfietsryers van Suid-Afrika, Mauritius, Namibië en Zimbabwe het aan die byeenkoms deelgeneem. Burry Stander (Specialized) is as die elite Afrika-kampioen gekroon.
Louw se tyd vir die ses rondes van die 4,2km-roete was 1:39:13. Reid se wentyd was 1:36.33.
Temperature het by die 40 grade Celsius gedraai en die pas op die baan was ook vuurwarm. Louw was nie onder die voorste drie jaers in die eerste ronde nie, maar die 19-jarige het stadig maar seker sy plek onder die voorste jaers ingeneem en vasgebyt om sy plek op die podium in te neem.
Almal was dit eens dat dit ’n baie taai roete was.
“Ek kon dalk beter begin het,” het Louw ná afloop van die wedren gesê.
Volgens Louw het hy daarop gefokus om net weer onder die voorste jaers te kom en toe sy eie wedren gery.
“Ek het Rourke Croeser en Bryce Munro ingehaal en op die moeilike klim vir hulle weggery. Ek het in daardie stadium gedink ek is vierde en het daarom my als gegee om Dominic in te haal.”
Hy was aangenaam verras toe hy by die eindpunt besef hy het die bronsmedalje verower.
“Ek het die wedren baie geniet en is baie gelukkig met die medalje,” het hy bygevoeg.