Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vuisgeveg stuit kerkdiens

Vuisgeveg stuit kerkdiens
 
2011-02-17

Lise Beyers

ONMIN heers steeds by die VGK Bergrivier, maar dié keer het die vuiste behoorlik begin klap.

Sondagoggend tydens die erediens het sowat 150 lidmate binne-in die kerk handgemeen geraak. Dit is steeds nie seker wat die bloed so erg laat kook het nie, maar polisieversterkings van so ver as Paar-Oos is ingeroep om die situasie onder bedwang te bring.

Ds James Mackay, om wie se kop al die onmin draai, het gesê dat hy Sondag vier kinders moes doop.

“Die kerk was propvol lidmate en daar was talle gaste van ver wat hul families kom ondersteun het. ’n Groep van sowat 30 BLB-lede het die dopery aanhou ontwrig. Ek het hulle gevra om stil te bly en die huis van God te respekteer, maar hulle het net voortgegaan.”

Die diens is met die aankoms van die polisie beëindig. Twee sake van aanranding is by die Wellington polisie ingedien.

Die tweespalt binne die geledere van Bergrivier-gemeente het verlede jaar in Augustus vlamgevat, toe Mackay, en sy vrou, Candice, se paaie geskei het.

Hierna het verskeie lidmate die Besorgde Lidmate van Bergrivier (BLB) gestig om hul misnoeë oor die doen en en late van Mackay uit te spreek.

Nie net is die BLB ongelukkig oor Mackay se egskeiding nie, maar hulle beweer dat hy met ’n ander vrou ’n verhouding het, dat hy die kerk outokraties bestuur en dat daar ongerymdhede in die kerk se finansies is.

Hierdie beweringe is deur die VGK Ring van Wellington ondersoek en verwerp. Maar steeds hou die BLB vol dat Mackay nie meer geskik is om die kerk te lei nie, en op hul beurt, verwerp hulle die bevindings van die Ring.

Hierna het talle voorvalle plaasgevind waar BLB-lede die kerkdienste ontwrig het. Selfs vuvuzelas is in die kerk geblaas en BLB-lidmate het probeer keer dat Mackay preek.

Hierdie aangeleentheid het drie weke gelede kookpunt bereik, toe Mackay ’n interdikte verkry het by die Wellingtonse Landdroshof teen 64 lidmate verbonde aan die BLB, wat hulle moes weerhou daarvan om aktiwiteite van die gemeente te ontwrig.

Die BLB het dit teëgestaan en verlede Donderdag is die interdikte wel in die Landdroshof tersyde gestel.

By navraag wou ds Freddie Ayford, voorsitter van die VGK-ring nie kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie, maar het wel gesê dat ’n spesiale sitting van die Ring vandeesweek sal plaasvind waartydens die kwessie dringend aangespreek sal word.

Die BLB se regsverteenwoordiger, Lloyd Fortuin, het gesê dat beide hy en Mackay se regsverteenwoordiger, Ivan de Villiers, as bemiddelaars wil intree om ’n oplossing vir hierdie onsmaaklike kwessie te vind.

“Ons glo dat rekonsiliasie wel kan plaasvind indien al die betrokke partye om die tafel kan sit en gesprek voer.”

* The woes of a Wellington congregation continued when a fist fight between 150 churchgoers took place on Sunday following court applications.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za