Kind verdrink in nag-emmer
2011-02-17
Lise Beyers
’n OUMA van Smartietown in die Paarl het in minder as ’n week twee kleinkinders verloor. Magdelene Wolffman van Edwinastraat 32 het voorverlede Saterdagaand die aaklige tyding ontvang dat haar kleindogter, Bianca van Zyl (19), vermoor gevind is in die Fairyland-begraafplaas. Sy is verkrag en haar keel is afgesny. Die volgende dag, terwyl sy en haar familie die gebeure van die vorige dag nog verwerk het, het haar kleinseun Ronaldo Abrahams (sewe maande), in ’n emmer vol urine verdrink. Ronaldo het saam met sy ma, Ruchelle Abrahams, by Magdelene se huis gekuier. Die babaseuntjie het op ’n bed binne die huis rondgekruip en het sodoende kop eerste in die emmer wat langs die bed gestaan het geval. Dit is steeds nie seker hoeveel tyd verstryk het voordat daar op die lewelose liggaampie van Ronaldo afgekom is nie. Hy is uitgetel en inderhaas na die Paarl MediClinic geneem, maar weens die erns van sy toestand is hy na Tygerberg Hospitaal oorgeplaas. Weens ’n tekort aan suurstof oor ’n geruime tyd, is hy breindood verklaar. Sy ma en pa Winston het deurgaans langs sy hospitaalbed gewaak in hoop vir ’n wonderwerk, maar hy is verlede Vrydag oorlede, die dag voor Bianca se begrafnis. Magdelene en Ruchelle wou vandeesweek nie oor die voorval uitbrei nie. “Dit was ’n ongeluk en kon met enigiemand gebeur.” Ronaldo word oorleef deur ’n sussie, Cassidy (3). Sy begrafnis vind Saterdag plaas vanaf Kraanvoëlstraat 14, Amstelhof, en om 10:00 by die Ware Evangelie Kerk in Amstelhoflaan. ’n Woordvoerder van die polisie, a/o Diana Linee, het gesê die polisie ondersoek nog die voorval. Intussen bly die verdagte in Bianca se moord, Jeffrey Meintjies (24), steeds in aanhouding. * A seven-month-old baby has died after falling into a bucket of urine.
More
News
|