DIE openbare biblioteek op Wellington het pas ’n spesiale toekenning ontvang vir die biblioteek met die grootste gemeenskapsbetrokkenheid en die beste groei in die Wes-Kaap.
Dié toekenning, wat gemaak is deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, is verlede week op ’n glansgeleentheid oorhandig.
Volgens die departement is die biblioteek op Wellington loshande die leier onder die biblioteke, museums en argiefbewaarplekke in die Wes-Kaap as dit by groeiende gemeenskapsbetrokkenheid kom en ’n styging in die verbruik van boeke en ander materiaal.
Daarbenewens het die biblioteek in die afgelope tyd ’n splinternuwe netwerk van takbiblioteke op plase in die omgewing van Wellington begin opbou.
Die eerste van hierdie nuwe takbiblioteke is ontwikkel by Bergrivier Primêr, ’n plaasskooltjie buitekant die dorp. Benewens ’n voorraad boeke, het die biblioteek ook drie rekenaars daar geïnstalleer. Die leerlinge van die skool het vinnig die vaardighede ontwikkel om met rekenaars te werk.
Verskeie ander satellietbiblioteke het kort daarna gevolg. Die heel jongste is by Rondeheuwel Primêr, ’n plaasskool naby Hermon. Hierdie biblioteek word op die oomblik vanuit ’n ou skeepshouer bedryf, maar sal hopelik binnekort na ’n ou woonhuis daar naby oorgeplaas kan word.
Gedurende skoolvakansies bied die biblioteek ’n wye verskeidenheid uitmuntende programme vir skoolkinders aan.
Hierdie programme word aangevul deur gereelde besoeke deur skrywers en ander programme wat in samewerking met die Breytenbach-sentrum op Wellington aangebied word.
Ondanks die feit dat baie biblioteke deesdae ’n daling in verbruiksyfers ondervind, het die sirkulasiesyfers van die Wellingtonse biblioteek oor die afgelope 20 jaar skerp gestyg, ten spyte van ’n klein personeelgetal. Twee van hierdie kontrakwerkers is onlangs permanent aangestel.