’n Vrou wat swanger vroue help
2011-02-24
Liezl Davids
DIE gedagte van ’n nuwe baba wat een van die dae sy verskyning maak, kan angswekkend en stresvol vir party nuwe mammas wees, maar met ’n Doula (vrouehelper) langs jou kan dit dinge soveel makliker en stresvry maak. Doulas word in Suid-Afrika opgelei deur Wombs, ’n ondersteuningsgroep vir swanger vroue voor en tydens geboorte en ná swangerskap. Charlene Kotzé, ’n Doula van die Paarl, het ná die geboorte van haar dogter besluit om ’n steunpilaar vir swanger mammas te wees en om hulle deur die verskillende fases van geboorte by te staan. Toe Kotzé geboorte geskenk het aan haar dogter moes sy ’n noodkeisersnit ondergaan. “Daarná moes ek alleen in die kamer lê terwyl my man by die baba was. Nou wil ek daar wees vir ander mammas en vir hulle ondersteuning bied sodat hulle nie nodig het om alleen en verward te wees nie.” Volgens Kotzé is ’n Doula se werk om te sorg dat die mamma ingelig is oor wat tydens die geboorte gaan gebeur en om vir haar emosionele ondersteuning te bied. “Ek het al meestal enkelmammas bygestaan, maar is ook daar wanneer daar ’n pappa is om hom ook te ondersteun.” Kotzé het gesê tydens die kraamproses sal sy die vrou se rug of voete masseer wanneer sy in pyn is, saam met haar stap en haar kalmeer deur met haar te gesels. Indien dit ’n enkelouer is, is sy by tydens die geboorte en selfs daarna. “Daar is baie keer wat die mamma lank moet wag voor sy geboorte skenk en dan is ek daar om met haar te praat. “Ons word opgelei om die mammas se vrae te kan beantwoord en om aan haar te verduidelik wat tydens die geboorteproses gaan gebeur. Ons verskaf nie mediese advies nie.” “Ek sê vir vir die pa wanneer hy haar rug en voete kan masseer en wanneer hy haar moet vat om te stap. So voel hy nie hulpeloos en uitgesluit nie.” Wombs bevorder normale geboortes waar moontlik. Kotzé vertel dat sy enige tyd van die nag of dag haar haas na ’n mamma toe wat in kraam is - sy ry selfs so ver as Ceres en Worcester. Vir navrae, kontak Charlene Kotzé by 076-148-9170.
More
News
|