'n Berg met 'n keps
2011-02-24
Francois Verster
SKEPTICI beweer dat die naderkom van die landswye verkiesings die rede is vir die skielike belangstelling in plekname – of die wysigings daarvan. ’n Nuwe Provinsiale Geografiese Namekomitee het inderdaad begin vergader en strategieë bespreek. Dit is ’n langsame proses, maar darem nie so lank as wat die name al bestaan wat onder bespreking kom nie. Historiese betekenis en verwantskappe word wel in ag geneem en die komitee het onderneem dat die verlede summier nie uitgevee kan word nie. Een van die name wat al sedert die VOC-tyd in die Boland bestaan is Klapmutskop. Soos die naam aandui, verwys dit na ’n hoofbedekking; ’n mus, “dikwels van leer met oorklappe”, stel die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse taal dit. PJ Nienaber, eertydse pleknaamkenner, het dit as ’n “ry- of matrooshoedjie” beskryf. Destyds is hierdie musse glo as beskerming teen die tierende suidoos gedra – geen wonder ook dat dit met ’n bandjie onder die ken vasgemaak is nie! Die Engelse het nadat hulle die Hollanders hier in 1795 vervang het, van “Sailor’s Cap” gepraat, wat daarop dui dat hulle die kop se naam verstaan en oorgeneem het. Iemand soos die vermaarde kolonel Jacob Gordon (na wie Gordonsbaai vernoem is) kon vlot Nederlands praat, so ’n mens kan aanneem dat die Britte maklik genoeg kon agterkom waarvan die plaaslike mense gepraat het. Uiteraard is die vorm van die berg, soos in die geval van Leeukop, die rede vir sy naam. Soos die gebruik was, is hoë landvorme toentertyd as uitkykposte gebruik. Volgens die historikus en romansier, dr Dan Sleigh, lyk die bekende drie groot pieke op die Simonsberg soos ’n groot mensekop met twee oorklappe weerskante daarvan. Maar vroeë ontdekkingsreisigers soos Lichtenstein (1806), het ook al in hulle reisbeskrywings melding gemaak van hierdie kop – in meer as een sin van die woord! Klapmuts word in talle historiese werke vermeld, soos byvoorbeeld aangeteken deur Abraham Gabbema in 1657: “waren 5 mijlen N.O. ten O. en O.N.O. Geadvanceert ende quamen omtrent ‘s avonts te 4 uyren aen voorz. revier, die by ons genoempt wierd Groote Berghriviere, alwaer ons ter neder sloegen ende den nacht verbleven, passerende des middaegs de clooff leggende tusschen den Diamandt - ende Paarlbergh ende aen d’ander sijde de Clapmutsbergh.” Hiervolgens kan ’n mens vasstel dat Klapmuts reeds in Van Riebeeck se tyd die naam gedra het. Vreemd genoeg het Van Riebeeck nie in sy dagjoernale vermeld waarom die kop so genoem is nie, iets wat hy gewoonlik uitvoerig gedoen het. Dit was natuurlik om aan die Here Sewentien, die magtige direkteure van die grootste en eerste internasionale maatskappy in menseheugenis (dit was nie bloot ’n Nederlandse onderneming soos algemeen geglo word nie) te verduidelik – elke dag se handelinge is neergeskryf in triplikaat: die oorspronklike het hier gebly en die afskrifte is met verskillende skepe na Nederland gestuur. Daar is dus geen onomstootlike bewys dat dit die vorm van die kop is wat deur die naam aangedui word nie – dit kan wees dat mense daar musse opgesit het weens die koue wind – maar ons eerste argivaris-historikus, George MCCall Theal, het ook in 1888 geskryf dat die kop na ’n “flat nightcap such was then in common use” verwys het Hoe dit ook al sy, aan daardie kant van die berg behoort mense oor nog ’n eeu of twee steeds van die mooi ekspressiewe naam “Klapmutskop” te praat. Die berg kan dus rustig voortslaap met sy antieke mussie op sy kop – die Khoi, die Hollanders, die Engelse, die huidige hutspot van kulture, en wie ons ook al mag opvolg, sal kom en gaan. Maar Klapmuts sal bly staan...
More
News
|