Blomkool-verpakking
2011-02-24
TEN spyte van die nuwe verbruikerswette wat ons almal beskerm, lyk dit asof ons supermarkte net nie belang stel om te verbeter nie. Ek het vandag blomkool gaan koop by ’n plaaslike winkel waar ek opgemerk het dat hulle vir ’n pakkie vars blomkool R14,99 gevra het, maar party weeg 500g en party 950g. By ’n ander winkel was die prys R12,99. Sekerlik moet hierdie items per kg verkoop word? Natuurlik kan dit ’n bietjie duurder wees as jou los blomkool, want dis verpak, maar dit pla my dat party pakkies kleiner is as ander. Dit geld ook vir baie ander groentes. So word die verbruiker ingeloop. A van der Walt ’n Supermarkeienaar reageer: Alhoewel dit baie gerieflik sou gewees het, kan produsente nie vrugte of groentes produseer wat almal dieselfde kleur, grootte of gewig is nie. Vrugte en groente moet so verpak wees dat dit, vir die kliënt, duidelik sigbaar is wat hy/sy gaan koop. Wanneer artikels as enkelverpakkings verpak word, mag daar nie meer as 12 produkte per verpakking wees nie – die kliënt moet dit maklik kan tel. Verder is daar geen standaarde neergelê wat op groente van toepassing is nie. Intern het ons groep die reëling met verskaffers dat enkelverpakte pakkies blomkool, broccoli ens nie minder as 450 gram mag weeg nie.
More
News
|