Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vrou se R11 900 weg weens OTM-diefstal

Vrou se R11 900 weg weens OTM-diefstal
 
2011-02-24


’n AFGETREDENE van Groenleegte is R11 900 armer weens OTM-diefstal.

Die vrou, wat om veiligheidsredes nie haar naam bekend gemaak wil hê nie, het verlede Woensdagmiddag geld onttrek by ’n Absa-OTM in Noorder-Paarl.

Sy vertel dat alles vlot verloop het totdat sy die transaksie voltooi het en ’n man haar aandag afgetrek het.

“Toe ek my kaart en geld in die hand het en wil loop, sê die man vir my dat die transaksie nog nie afgehandel is nie. Ek was onkant betrap en het nie mooi geweet wat om te doen nie.

“Hy het gesê dat ek na die skerm moet kyk, want daar is ’n vreemde boodskap daarop. Hy het oor my geleun, aan die masjien gevat en toe is hy daar weg.

“Nog ’n man het skielik sy verskyning gemaak en ek het hom vertel wat gebeur het. Hy het gesê dat ek ’n bankstaat moet trek om te kyk of alles nog reg is.

“Dit het ek gedoen en dit het geblyk dat my geld nog veilig is.”

Maar dit was net die begin van haar probleme. Die volgende oggend vroeg het die afgetredene ’n oproep ontvang van Absa se bedrog-tak vanuit Pretoria om navraag te doen oor ’n onttrekking vanuit haar bank-rekening in Namibië.

“Dit het my heeltemal onkant gevang, want ek was nie naby aan Namibië nie.”

So is sy bank toe en daar het sy met skok vasgestel dat byna R12 000 oornag uit haar bankrekening verdwyn het.

“Die boewe is oënskynlik baie uitgeslape. Hulle het geld vanuit my geldmark-rekening oorgeplaas na my tjekrekening en toe hieruit die geld onttrek.

“Maar dit was nie op een slag gedoen nie. Vreemde bedrae soos R101 en R202 is op ’n slag onttrek.

“Al die onttrekkings het vanaf kort voor middernag Woensdag tot vroeg Donderdagoggend plaasgevind.

“En wat vir my baie vreemd is, is dat ek slegs R1000 kontant per dag vanuit my tjekrekening mag onttrek. Ek verstaan nie hoekom die bank se sekuriteit so swak is nie.”

Absa ondersoek die voorval voordat daar ’n besluit geneem sal word of sy vir haar verlies vergoed sal word. ’n Saak van bedrog is ook by die Paarl polisie aangemeld. Beeldmateriaal van sekuriteitskameras in die nabyheid sal noukeurig nagegaan word om die skuldiges se identiteit te probeer vasstel.

* Almost R12 000 has been stolen from a local woman’s bank account due to ATM fraud.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za