Druiwe-diewe baljaar lekker in Paarl
2011-02-24
TAFELDRUIFBOERE in die omgewing verloor jaarliks derduisende rande aan inkomste weens druiwe-diefstal. En dit blyk dat daar geen oplossing hiervoor is nie, want wanneer ’n vermeende druiwedief wel vasgetrap word, loop hy byna dadelik weer vry op straat. Hein Carstens, eienaar van Optenhorst-plaas in Noorder-Paarl, vertel dat hy hierdie tyd van die jaar daagliks skade ly. “Dit is ’n ongelooflike probleem. Talle tafeldruifprodusente in die gebied het reeds opgehou om tafeldruiwe te kweek weens hierdie tendens. “Ons drade word eenvoudig geknip en die publiek help hulself. Veral leerders van ’n nabygeleë skool in Berlynstraat rig baie skade aan. Honderde van die leerders stap daagliks hier verby en pluk druiwe. “Om doeltreffende sekuriteitsmaatreëls aan te bring kos nog duisende rande en ons as boere kan dit eenvoudig nie bekostig nie.” Verder vertel Carstens dat hy al diewe op heterdaad betrap het wat druiwe steel en hy het hulle self aan die polisie oorhandig, net om dieselfde mense die volgende dag weer in sy wingerd te betrap. Derek Clift van De Hoop-plaas in Suider-Paarl beraam sy skade weens druiwe-diefstal om en by R100 000 per jaar. “Dit is dikwels jongelinge wat ingestuur word om druiwe te steel, juis omdat die gereg nie teen hulle kan optree nie. “Druiwe wat langs die pad verkoop word, is baie keer gesteelde goed.” Porchia Adams, woordvoerder van Agri Wes-Kaap, het gesę dat druiwe-diefstal vir hulle ’n groot bekommernis is. “Diefstal op plase en in die omliggende gebiede bly ’n groot probleem en is selfs aan die toeneem. “’n Groot bekommernis in die Paarl-gebied is veral die diefstal van druiwe vanaf trekkers en vragmotors wat die druiwe na kelders vervoer. Mense spring op bewegende voertuie om die druiwe te steel en veroorsaak uiters gevaarlike situasies wat nie net hulle nie, maar selfs ander mense in gevaar kan stel.” * Grape producers are hard hit by theft from local vineyards.
More
News
|