Gimnasium-sage nog steeds nie uitgestryk
2011-02-24
Lise Beyers
’n WOLK van geheimhouding hang steeds om die Gimnasium-sage wat drie weke gelede sy kop uitgesteek het. Die gort is nou behoorlik gaar nadat ’n graad 10 inwoner van Huis MacFarlane, David-Hendrik Roux, beweer het dat hy tydens ’n middernagtelike aanval in die koshuis so erg aangerand is, dat een van sy testikels verwyder moes word. Die voorval het volgens hom op Maandagnag 31 Januarie plaasgevind in sy koshuiskamer. Hy het glo nog geslaap toe mense sy kamer binnegestorm het en hom begin skop en slaan het. Die kamer is ook volgens hom omgekrap voordat sy aanvallers gevlug het. Roux het sy geheim stilgehou, totdat hy dae later gehospitaliseer moes word weens sy besering. ’n Klag van aanranding is intussen hangig gemaak by die Paarl polisie en Hoërskool Gimnasium is self besig met ’n interne ondersoek. Intussen het verskeie gerugte hul kop uitgesteek dat die voorval wel nie in die koshuis plaasgevind het nie. En in ’n brief van Gimnasium se beheerliggaam word daar geskryf dat daar tot datum geen getuienis ter stawing van die voorval ingesamel of aan hulle voorgelê is nie. Volgens Roux se pa, Riaan, was sy seun tuis by hulle in Ashton daardie naweek. Inligting is wel bekom dat die polisie verskeie verklarings geneem het van persone in Ashton wat verband hou met die voorval. * Police are still investigating allegations of an attack on a Gymnasium boarder.
More
News
|