Goedkoper alternatiewe om krag te spaar
2011-03-03
MET verwysing na die klagtes met betrekking tot Electrosmart se kragspaartoestel vir warmwatersilinders wil ek net noem dat daar ’n baie goedkoper toestel is wat deur Satchwell gemaak word en verkrygbaar is plaaslik. My toestel het, saam met installasie net meer as ’n jaar gelede, ’n eenmalige bedrag van R1 389 gekos. Dit is maklik om te gebruik, word geprogrammeer met die druk van ’n paar knoppies en die watertemperatuur is altyd sigbaar. Die toestel is steeds te koop by Kaap Agri vir R973 (sonder installasie). Dit wil dus voorkom of die koste van R500 deposito en R400 per maand wat mev Hanekom betaal, buitensporig is. ’n Mens wonder wat die termyn is, veral aangesien sy reeds R9 000 betaal het. Electrosmart se stelling dat hul toestel 25% spaar is waarskynlik reg, maar om R400 per maand op die warmwatersilinder te spaar, moet die silinder se elektrisiteit alleen R1 600 per maand wees. Min standaard huishoudings se totale elektrisiteitsrekening is soveel. Ten beste klink dit vir my of mev Hanekom R400 per maand betaal om R200 te spaar. Hoe dit ook al sy, daar is goedkoper alternatiewe as Electrosmart. Voorts beweer Electrosmart dat 90% van hul kliënte nie hul toestel korrek gebruik nie. Wie se skuld is dit? Word die mense voldoende opgelei? Kan hul toestel maklik geprogrammeer word? ’n Verskaffer wat weet dat dit die geval is, doen dit tot nadeel van hulself en die gebruiker.
André Joubert
More
News
|