'In die baai: pot' wil Danika hoor
2011-03-03
VERLEDE jaar het Danika Swart (17), ’n graad 12-leerder van Hugenote Hoërskool, een van haar ideale bereik toe sy haar Suid-Afrikaanse kleure in jukskei (o.19 dogters) behaal het, en nou is daar geen keer aan wat sy nog wil vermag in dié sportsoort nie. Sy is Paarl Post en Let’s Play se sportster vir Februarie 2011. Meerkat, soos wat sy bekend staan onder die jukskeispelers in die Boland, sê die belangstelling in dié sportsoort het in graad 7 begin toe iemand by die skool vir hulle ’n demonstrasie gegee het en ’n vriend haar meer daaroor geleer het. En die bynaam? “Seker maar omdat ek so nuuskiering is,” glimlag Danika. Indien sy vanjaar weer vir die Boland-span gekies word, sal dit die sesde keer wees dat sy in Kroonstad, die mekka van Suid-Afrikaanse jukskei, gaan deelneem. Maar die paadjie na Suid-Afrikaanse kleure is nie maklik nie. “Wanneer ons Boland in Kroonstad verteenwoordig, moet ons eers die Suid-Streekspan (Boland, WP, SWD en OP) haal om dan vir die Suid-Afrikaanse span oorweeg te word. Gelukkig het dit aan die einde van 2010 met my gebeur,” vertel sy. Jukskei gaan deel van haar lewe wees wanneer sy volgende jaar by CPUT in Wellington onderwys gaan studeer. Sy wil nog steeds meer van die spel leer en natuurlik weer haar Suid-Afrikaanse kleure in die senior afdeling verwerf. Tans word sy deur Barthlo Theron afgerig, maar steek ook gereeld kers op by Hercules van Wyk en Annatjie de Klerk, twee spelers van die Fleur de Lis-klub op Wellington. Weekliks oefen sy omtrent vir vyf uur, maar wanneer die groter toernooie nader kom, sal jy haar gereeld op die jukskeibane kry. Wanneer haar maats in Hugenote Hoërskool van doele, drieë en lopies praat, praat sy liewers jukskeitaal soos “In die baai: pot” vir wanneer die wengooi aangeteken is en “Stukkend is die ding” vir wanneer ’n gooi veroorsaak dat die gevraagde 23 punte oorskry is.
More
News
|