Atleet se droom gepootjie
2005-10-13
OM stoksiel-alleen op Dubai se lughawe agtergelaat te word terwyl die res van jou SA Biathlé-span verder na Nice en Monaco reis, is ‘n nagmerrie.
Dié nagmerrie het vir Lezandré Joubert (18) van Hugenote Hoërskool, Wellington, die wrede waarheid geword.
Die oproep om 03:30 die oggend wat haar ouers in Wellington gekry het, is een wat hulle vir niemand toewens nie.
Hul enigste dogter is vir die eerste keer in haar lewe in die buiteland, kan nie die taal praat nie, het nêrens om te gaan nie en haar droom om haar land te verteenwoordig is daarmee heen.
Nadat Lezandré in Bloemfontein vir die SA-span gekwalifiseer het, het sy opgewonde uitgesien na die deelname. Daar was die rondskarrel om ‘n tydelike paspoort en visums te bekom en R20 000 bymekaar te maak.
‘n Dag voor die vertrek kon Lezandré haar permanente paspoort afhaal by die Paarl-kantoor van Binnelandse Sake. Die tydelike paspoort is ingegee.
Die span het toe vertrek, via Johannesburg na Dubai vir twee dae.
Op die lughawe vir die vlug van Dubai na Nice, in die ry met die ander 50 atlete en 70 ouers en ondersteuners, moes Lezandré eenkant toe staan. Later was dit net die spanbestuurder, Tony Bradford, en sy by die instaptoonbank.
Toe Lezandré se tydelike paspoort vir die permanente ingeruil is, het die Franse visum in die tydelike paspoort gebly en die owerhede in Dubai het verseg om haar na Nice te laat vlieg.
Dit is toe dat die eerste van vele oproepe gemaak is, eerste na haar ouers. Die spanbestuurder het gereël dat sy met hotelvervoer teruggaan en daar aanbly. Die reisagent is in Suid-Afrika wakker gebel.
Toe is Tony op die vliegtuig saam met die span en Lezandré sit vinger-alleen met haar tassie by haar en wonder wanneer sy uit hierdie aaklige droom gaan wakker word.
Toe sy teen 11:00 die oggend nog op die lughawe wag dat die hotel se mense opdaag, het ‘n stemmetjie binne in haar gesê dat sy nie meer aan die wêreldkampioenskap sal kan deelneem nie.
Toe sy uiteindelik self die hotel skakel, het hulle van geen sout of water geweet nie. Sy moes self ‘n taxi haal, en ‘n deposito betaal vir haar kamer, het hulle gesê.
Met ‘n klein stemmetjie het sy haar ma gebel. Na vele oproepe heen en weer het Piet le Roux van Wellington se broer Nico wat in Dubai werk, haar laatmiddag op die lughawe kom haal.
Sy kon dalk nog deelneem mits die nodige visum gereël kon word, is gehoop, as sy vroeg Saterdag op ‘n vlug na Nice kon wees.
Maar toe is dit Donderdag en om 13:00 is die winkels al toe vir die sabbat Vrydag, en Saterdag was dit te laat vir foto’s, die SA ambassade, die Franse Ambassade, en dan lughawe toe vir die vlug om 11:00.
Lezandré se hart het die oggend nog gesê daar is ‘n kans, maar die traan op haar wang die middag het vir die wêreld gesê haar droom is daarmee heen.
By Hugenote Hoërskool se prysuitdeling het Lezandré onder luide applous met armsvol bekers en pryse van die verhoog af geloop.
Sy het 13 keer in haar hoërskoolloopbaan gekwalifiseer vir haar erekleure-baadjie.
Sy het bekers gekry as die sportvrou van die jaar, die mees veelsydige sportvrou, vir veelsydigheid en betrokkenheid, die dogters se sportmanskap-trofee en die skoolhoof-beker.
Sy is nou in die SA o.19 netbalspan opgeneem wat in Desember in Jamaika gaan deelneem.
Wat wil sy vir Kersfees hê? ‘n Visum, ‘n regte visum asseblief.
* ‘n Woordvoerder van Binnelandse Sake in die Paarl, Juanita Britz, verduidelik: “Die noodpaspoort is - korrek, volgens regulasies - deur ‘n klerk by die toonbank ingeneem. Sy was egter nie bewus van die visum in die paspoort nie.
“Lezandré kon met die noodpaspoort gereis het - die dokument word aanvaar deur die Schengenlande.”
* A Wellington schoolgirl on her way to an international biathlé event was marooned at the Dubai airport due to a visa mix-up.
More
News
|