DIT is vir my as sakeman in die Paarl uiters skokkend om te sien hoe die fietsrenne die afgelope naweek gereël is en paaie gesluit is in die sentrale sakegebied op die einde van die maand.
Ek het niks teen die resies nie, maar glo daar is ander paaie en roetes wat gebruik kon word wat die impak op die sakegebied sal verminder.
Ek as sakeman moet R1000 of meer opdok per maand op my elektriese rekening en dan as die einde van die maand kom, dan word toegangspaaie toegemaak dat kliënte nie kan aankope doen nie.
Dit is ook tog in belang van besigheid dat dit aangebied word, of hoe?
Dit moet dan ook tog ’n finansiële inspuiting bring, maar as ons kele afgesny word deur paaie te sluit hoe dan nou?
Wie gee om vir die verlies van inkomste wat gely word en hoe die huur betaal moet word?
Hoe verwag die Munisipaliteit moet ons nou ons rekeningverpligtinge nakom op só ’n manier?
Gee bietjie meer aandag aan die sentrale sakegebied en die besigheidsektor se belange om tog op die einde van die dag werkskepping te kan bevorder, sowel as welvaart in die Paarl en vir die Paarl se inwoners.
Beplan dit tog asseblief volgende keer net beter om ons as besigheidseienaars nie te benadeel nie.
André