Verdagte vlug uit hof
2011-03-03
'n VERDAGTE wat sy verskyning gemaak het by die Paarl Landdroshof het voor die oë van die landdros en polisiebeamptes verdwyn. Adriaan October het verlede week in die beskuldigdebank gestaan op aanklag van huisbraak. Die Landdros was nog besig om hom aan te spreek, toe hy uit die beskuldigdebank gespring het en uit die hof gehardloop na vryheid. Alhoewel polisiebeamptes hom agterna gesit het, was hy meer vlugvoetig as hulle. October se vryheid was egter korte van duur. Twee dae later het hy by die Paarl polisiestasie aangeklop en homself oorgegee. Hy het aan beamptes verduidelik dat hy “moeg is van hardloop”. Vrydag het hy weer voor dieselfde landdros verskyn, dié keer op aanklagte van beide huisbraak en ontsnapping. Nodeloos om te sê het sy aansoek om borgtog misluk. Die polisie ondersoek October se ontsnapping intern.
More
News
|