Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gemeenskapsentrum loop deur onder diewe

Gemeenskapsentrum loop deur onder diewe
 
2011-03-03

Lise Beyers

’n GEMEENSKAPSENTRUM in Paarl-Oos is Maandagnag besteel van rekenaartoerusting ter waarde van duisende rande.

Jennifer Arendse, gemeenskapswerker by die Christelike organisasie Miqlat se Tiffany’s Gemeenskapsentrum in Plumbagostraat, Lantana, het die diefstal Dinsdagoggend ontdek toe sy die sentrum oopgesluit het.

Alles het normaal gelyk totdat sy agtergekom het dat die deur by die hoofingang oop staan.

“Toe sien ek dat die twee rekenaars by ontvangs weg is, asook ’n drukker. Daarna het ek met skok gesien dat ses hardeskyf-bokse van ander rekenaars ook weg is.”

Die finansiële skade van die diefstal word beraam op ongeveer R70 000. Volgens die polisie word hierdie goedere vir ’n minimale bedrag verkoop om diewe se dwelm-lus te bevredig.

Om toegang tot die sentrum te verkry, het diewe eers oor die elektriese heining van die sentrum geklouter, die dief-alarm se drade geknip en toe ’n ruit van die buitedeur netjies uitgehaal. Hierdeur het hulle geklim en toe ’n deur van die sentrum oopgemaak om hul buit uit te dra.

Arendse het gesê dat dit ’n groot teleurstelling is dat lede van die gemeenskap hierdie uiters belangrike sentrum geplunder het.

“Ons het onlangs duisende rande spandeer om die sentrum op te knap en nuwe toerusting aan te skaf.

“Alles wat ons hier doen, is vir die gemeenskap. Ons bied rekenaarkursusse aan vir ’n baie klein bedrag. Baie van ons studente het hierdeur al werk gekry.

“Daagliks voorsien ons maaltye vir tussen 300 en 400 mense en bied berading aan vir slagoffers van MIV, sosiale misdade en tienerswangerskap.

“Hiér is ook ’n nasorg-sentrum vir plaaslike kinders.”

Enigiemand met inligting oor die diefstal word gevra om die ondersoekbeampte Kapt Lindsey Jepthas skakel by 021-877-5900.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za