Paarlse boekhoudster gevonnis
2011-03-03
Lise Beyers
'n PLAASLIKE boekhoudster is verlede week gevonnis tot twee jaar huisarres nadat sy skuldig bevind is dat sy ’n Mbekweni MIV-welsynsorganisasie uit byna ’n kwartmiljoen rand bedrieg het. Nicolene Neethling van Denneburg, ma van twee jong kinders, is in die Bellville Handelshof skuldig bevind aan 136 aanklagte van bedrog en een van geldwassery. Die bedrog het tussen 2009 en 2010 plaasgevind toe Neethling as finansiële administrateur gewerk het by Be Part Yoluntu Sentrum in Mbekweni. Be Part is ’n nie-regeringsorganisasie wat staat maak op privaat borge en donasies. Hulle is betrokke by MIV-navorsing en bevorder MIV-toetsing onder die gemeenskap van Mbekweni. Volgens die klagstaat het Neethling vervalste fakture uitgereik onder die vandaal van gereelde diensverskaffers aan die sentrum. Sy het toe betalings vanuit Be Part se bankrekening herlei na haar eie bankrekening of dié van haar suster. In haar pleidooi, het Neethling gesê dat sy in dié tydperk onder geweldige finansiële en emosionele druk was omdat sy in ’n egskeiding gewikkel was. Sy het aangevoer dat sy gesukkel het om ’n dak oor haar kinders, onder andere ’n seun met leukemie, se koppe te hou. Tydens vonnisoplegging het landdros Amrith Chabilall die misdaad as skandelik beskryf en gesê dat onder ander omstandighede sou tronkstraf aan Neethling opgelê geword het. Maar weens haar sosiale omstandighede met ’n ernstige siek kind vir wie sy moet sorg, is ’n versagtende vonnis aan haar opgelê van twee jaar huisarres, gepaard met 16 uur gemeenskapsdiens per maand. Neethling betaal maandeliks ’n bedrag van R5000 af aan Be Part ter vergoeding van die bedrog. * A Paarl mother of two has been found guilty of defrauding a Mbekweni HIV centre and has been sentenced to two years’ house arrest.
More
News
|