Reusagtige Tik-fonds
2011-03-03
WELLINGTON polisie het die afgelope naweek een van die grootse Tik-vondste nóg in die Boland gemaak. Byna R500 000 se Tik is gevind, toe ’n polisiebeampte vertroulike inligting ontvang het van ’n lid van die publiek. Volgens die informant, was ’n verdagte persoon besig om ’n versending Tik af te laai by ’n bekende dwelm-perseel in Sogwitistraat, New Rest. Kst William Small het dadelik die inligting opgevolg en het ondersoek ingestel. Hy het die woning wat die informant beskryf het van ’n afstand dopgehou en ’n man wat die beskrywing gepas het van die verdagte, was in die omtrek. Small het versterkings ingeroep en nadat die situasie noukeurig gemonitor is, het die polisie toegeslaan. Die verdagte, ’n Nigeriese burger, is deursoek en toe daar geen verbode goedere in sy besit gevind is nie, is hulle na sy motor toe. Hiér was daar ook ooglopend geen goedere nie, maar ’n parate polisieman het wél opgelet dat een van die panele onder die paneelbord van die verdagte se motor los was. Hy het die paneel verder losgemaak en toe hy sy hand daarin druk, kom hy af op twee sakkies, met ’n poeier wat soos Tik lyk daarin. Die verdagte en sy voertuig is hierna na die Wellington polisiestasie geneem waar die voertuig verder deursoek is. Nog ’n los paneel is afgeskroef en terwyl ’n polisieman tussen die drade voel, kom hy op nog ses sakkies Tik af. Die totale gewig van die Tik is 1,238kg. ’n Woordvoerder van Wellington polisie, a/o Celeste Barkhuizen, het gesê dat die vonds beslis die grootste die afgelope vyf jaar is. “Ons vind dikwels ’n paar sakkies wat slegs ’n paar gram Tik bevat, maar hierdie vonds is oorweldigend. Die gebied waar die dwelms vermoedelik verko op sou word, New Rest, het ’n reputasie vir misdaad en dwelmmisbruik. “Hierdie vonds is ’n ware deurbraak in ons stryd teen dwelms.” Kosiso Obiegbunam is in hegtenis geneem. Hy is tans woonagtig in Gordonsbaai. * Almost half a million rand’s worth of the drug Tik was seized near Wellington on Sunday.
More
News
|