DIE Paarl as dorp mik nou na 350 jaar, maar dit blyk dat met elke tree wat hy vorentoe neem, neem hy twee treë terug.
Dis geen geheim dat ander Bolandse dorpe soos Frnaschhoek, Stellenbosch, en selfs Robertson, al lang treë geneem het om hul as volwaardige toeriste-dorpe te ontwikkel.
Maar steeds bly die Paarl ‘n hele klompie tree agter hulle, al het ons sekerlik die mooiste Hoofstraat in die land, asemrowende uitsigte oor wingerde en omliggende berge, asook ‘n volwaardige rivier wat deur die hartjie van die dorp vloei.
Die afgelope paar jaar het ‘n gedeelte van die Hoofstraat, vanaf die Bergrivier Boulevard tot by die Toringkerk, nuwe lewe gekry met entrepreneurs wat die ideale ligging van die Hoofstraat gebruik het om vir hulself suksesvolle besighede, asook sodoende ’n nuwe kern vir toerisme in die dorp se siel te skep.
Neem maar net die heerlike restaurante en koffieplekke langs die pad en die opgradering van Dwars-in-die-Weg.
Maar ongelukkig bly die dorp se mense erg verdeeld en bereik dood eenvoudig nie ‘n vreedsame middeweg nie. Daar moet altyd ‘n handjievol inwoners wees wat dwars moet optree teenoor positiewe ontwikkeling.
‘n Baie goeie voorbeeld hiervan is die teenstand teen die boetieksentrum, Frater Square.
Hierdie sentrum het ontwikkel vanuit die ou skuur op Gerard Frater se landgoed in Paarl-Suid. Die skuur word al jare lank gebruik as geskenkwinkel, restaurant en wynproelokaal.
Maar die Fraters het ‘n geleentheid gesien om hierdie stokou waenhuis te omskep in iets waarby die dorp werklik sal by baat.
So is die hulp van argitekte, ingeneurs, historikuste en entreperneurs ingeroep om nuwe lewe in die ou La Concordia-skuur te blaas.
En hulle het werklik wonders gedoen. Frater Square is ideaal geleë naby die KWV, en die Paarl kan beslis baat by so ‘n sentrum wat na die behoeftes van die meer skerpsinnige verbruiker kan omsien. ‘n Boekwinkel, delikatese, smaakvolle klerewinkel, bloemiste en des meers word beloof.
En die eerste besigheid wat sy deure oopgemaak het, is ‘n familierestaurant, wat nie net heerlike geregte bedien nie, maar smaakvol is met ‘n asemrowende uitsig oor wingerde en Paarlberg. Wat nóg het ‘n mense nou nodig?
Hier by Frater Square was die tafel beslis gedek vir ‘n juweel in die Paarl, maar ongelukkig het enkele inwoners dit baksteen vir baksteen teengestaan.
Redes wat aangevoer word, wissel van rusverstooring tot die oortreding van bouregulasies.
As daar goed gekyk word na die hele konsep van Frater Square, is hierdie redes maar ‘n bitter pil om te sluk.
Die restaurant is geen lawaaierige kroeg nie en die restoerasie van die ou skuur is net ‘n pluimpie vir die Paarl.
En behalwe die klaagliedere van enkele individue is die werklike dwarsklap wat aan Paarliete toegedien word, die feit dat die Munisipaliteit sy rug draai op hierdie ontwikkeling wat net goed vir die dorp kan wees.
Weens hul onbevoegdheid om die ontikkeling by te staan met die tydige goedkeuring van bouplanne, staar die Fraters ‘n werklike gevaar in die gesig dat hul deure nie oop gehou sal kan word nie.
Kyk maar ‘n bietjie rond hoe die huidige swak ekonomie talle ontwikkelings tot stilstand gedwing het in die gebied. Mense verloor links en regs hul werk soos wat besighede hul deure moet sluit.
Hier by Frater Square is daar ‘n werklike werkskeppings moontheid, asook ‘n toeriste-attraksie vir die Paarl.
Sekerlik is dit die Munisipaliteit se plig om dit by te staan, of wil hulle weer eens bewys dat hulle net draadsitters is wat geen daadwerklike besluite vir die opheffing van die dorp kan neem nie?
Die vraag bly staan, wil ons vorentoe toe gaan, of wil ons ook draadsitters word?