DIT was met redelike skok wat ek die berig oor die “Tour of SA” se ontwrigting in Hoofstraat, Paarl, gelees het.
As ’n persoon wat fietsry, met kinders wat fietsry, was dit vir my ’n fantastiese geleentheid om węreldklas-fietsryers hier in ons dorp te sien.
Ek verstaan dat dit ontwrigting vir die verkeer was, selfs miskien vir enkele winkels, maar, ek kan nie glo wat se reaksie sekere besigheidsmense oor hierdie belangrike geleentheid het nie. Dit was ’n enkele dag in die hele jaar!
Om die dorpsvaders te dreig met protes in die strate en so meer is tog verregaande! Ons dorpie was vir ure lank op televisie. Van die besighede wat so kla, het verniet televisiebemarking gekry! Die węreld het ons gesien en ook op verskeie plekke ondersteun. Vanwaar die kortsigtigheid?
Ons moet eintlik vir die stadsvaders en die Paarl Post kwaad wees dat daar nie meer gemaak is van die geleentheid nie. Bemarking en bemarkingsgeleenthede het verlore gegaan!
Daar is meer van Paarl gewys en oor Paarl se erfenisse gesels op een dag as wat gedurende die hele węreldbeker-toernooi gedoen is. Deur hierdie tipe van geraas sal ons nooit weer sulke geleenthede gegun word nie.
Ondersteun liewers węreldklas-sportgeleenthede vir ’n enkele dag en moenie vyande maak van Paarl en die omgewing se fietsryers deur dit, wat ons sport vir hierdie dorp gedoen het, net af te kraak nie.
Dick During