Perdeberg spog met Chenin
2005-10-13
PERDEBERG se Chenin Blanc was die Jongwynskou Chenin Blanc Kampioen en Veritas 2005 goue medalje wenner, terwyl hul Chenin Blanc Reserwe ook by Veritas 2005 ‘n goue medalje gewen het.
Kobus de Kock, Besturende Direkteur is veral opgewonde oor die Reserve Chenin Blanc - ‘n eerste vir Perdeberg.
“Met ‘n trotse erfenis van bekroonde standaardreeks Chenin Blanc-wyne, wou ons dié slag ‘n wyn skep wat in houtvate gegis het, om sodoende ‘n besonderse vrugtigheid en kompleksiteit daaraan te verleen.”
“Nog ‘n nuutjie is dat die druiwe wat ons vir hierdie spesifieke wyn geproduseer het, sorgvuldig deur middel van die jongste tegnologie uitgesoek is. Met infrarooi lugfotografie kon ons daardie dele van die wingerde uitwys wat die mees homogene groei getoon het.
“Daar is net in hierdie dele geoes. Hierdie uitsoekdruiwe word veral vir die reserwereeks gebruik en is weereens ’n bevestiging van die spesiale aandag wat geskenk word aan kwaliteit.”
Vernuwing slaan sterk deur in Perdeberg se nuwe wynverpakking en produkreeks. Hulle beweeg weg van die gebruiklike, deur skroefproppe, eerder as konvensionele kurkproppe vir hul standaardreeks wyne te gebruik.
Wynmaker Pieter Carstens sê: “Ons glo dat deur skroefproppe pleks van kurkproppe te gebruik, ons vir die verbruiker gehalte produkte lewer wat langer vars en vrugtig sal bly.”
More
News
|