Top Pinotages beoordeel
2005-10-13
DIE Absa Top 10 Pinotage Kompetisie het vanjaar ‘n rekord 120 inskrywings ontvang en is onlangs deur drie internasionale en vier plaaslike wynspesialiste beoordeel.
Groot afwagting heers vir die uitslae van die kompetisie wat op 2 November tydens ‘n toekenningsfunksie by Meerendal Landgoed in Durbanville aangekondig word.
Wat vanjaar se beoordeling deur die plaaslike en internasionale wynkenners uniek maak, is die rekenaartegnologie wat vir die eerste keer in Suid-Afrika toegepas word.
Elke beoordelaar sal sy of haar graderings van elke wyn self in ‘n persoonlike rekenaar prosesseer en drukstukke daarvan word dan aan hom of haar verskaf om dit te kontroleer. Die beoordelaar sit en proe die wyne terwyl die persoonlike rekenaar die resultate insluk.
Die beoordelaars is Duimpie Bayly (Kaapse Wynmeester), Dave Hughes (internasionale wynkenner van SA), Peter May (Pinotage kenner van Engeland), Michael Vaughan (internasionale wynkenner van Kanada), John Walker (internasionale wynkenner van VSA), Margaret Fundira (US Meestersgraad in wynbiotegnologie) en Christine Rudman (Kaapse Wynmeester).
Die Absa Top 10 Pinotage Kompetisie word vir die negende keer aangebied en die rekord inskrywings is ‘n aanduiding van hoe belangrik dit deur Pinotage produsente in Suid-Afrika geag word.
Dit dien onder meer as ‘n vergelykingsbasis vir gehalte en het die afgelope jare ‘n rol gespeel in die hoë opgradering van Suid-Afrika se Pinotage wyne se internasionale status.
More
News
|