Boere kan ná maande weer bel
2011-03-10
Johan Nel
TALLE boere in die omgewing van Voor-Groenberg buite Wellington kon die afgelope week vir die eerste keer in meer as vier maande weer hul telefone gebruik. Koperdiewe het laat verlede jaar die telefoonlyn na hulle plase, oor ’n afstand van bykans ses kilometer, afgesteel. Tientalle boere langs die lyn was daarna maande lank slegs op hul selfone aangewese om met die buitewêreld in verbinding te bly. “My besigheid se rekenaar en my selfoon maak gelukkig van satelliet-koppeling gebruik. As dit nie daarvoor was nie, sou ek kniediep in die moeilikheid beland het,” het Koos Malan, wat ’n groot pluimveeboerdery op sy plaas Koplande bedryf, gesê, toe sy telefoon die afgelope week vir die eerste keer in meer as vier maande weer begin lui het. Malan sê dat Voor-Groenberg se groot stokkiestelers, wat swaar leun op bestellings wat per telefoon en veral per faks ingestuur word, die koperdiewe wonder bo wonder vrygespring het. Vier maande sonder telefoonlyne sou hulle onberekenbare skade berokken het. Volgens Riaan Mouton, van die plaas Vergesig, het hy en sy bure vertoë tot Telkom gerig om van minstens vier maande se huurgeld op hul telefone kwytgeskeld te word. “Ons het tot dusver maar ons maandelikse huurgeld bly betaal. Hoewel daar geen telefoondiens was nie het ons maar in die hoop gelewe dat die lyn enige oomblik herstel sou word. “As jy ophou betaal, loop jy die gevaar dat jy, benewens die ongerief en die lang wag, dalk nog ’n yslike aansluitingsfooi ook moet betaal.” Die diefstal van telefoonlyne wat groot ontwrigting oral in die Wes-Kaap veroorsaak, is volgens kenners deel van die grootskaalse koperdiefstal wat intansie jaarliks meer as R260 miljoen uit die sak jaag. Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) het bereken dat koperkabel ter waarde van meer as R20 miljoen net in Januarie vanjaar van Eskom, Telkom en Spoornet gesteel is. Hoewel Telkom aan die boere die versekering gegee het dat hulle nuwe sekuriteitsmaatreëls in werking gestel het, kan die boere nie die versoeking weerstaan om kort-kort die plaastelefoon op te tel, net om seker te maak die lyn is nie weer gesteel nie.
More
News
|