Gim-debakel toe geen aanranding
2011-03-10
Lise Beyers
GEEN gemene spel word vermoed nie nadat ’n leerder van Hoërskool Gimnasium ’n noodoperasie ontvang het om ’n testikel te verwyder. Hierdie onthulling is verlede week deur die Paarl polisie gemaak, nadat ’n intensiewe ondersoek plaasgevind het ná ’n klagte van aanranding op die skoolterrein. Die herrie het ontstaan nadat ’n graad 10 leerder, Dawid-Hendrik Roux (15), het beweer dat hy in sy koshuiskamer by Huis MacFarlane oorval en so erg geslaan is op sy geslagsdele dat een van sy testikels verwyder moes word. Roux , ’n krannige sportman, het eers die besering aangemeld nadat hy aanhoudend gebraak het en in erge pyn was. Mediese ondersoeke het vasgestel dat die bloedtoevoer na ’n testikel afgesny is en ’n operasie is uitgevoer om die beskadigde testikel is verwyder. Die voorval het geweldige opslae gemaak, met aantygings wat heen en weer geslinger is oor boelie-taktieke by skole. Die voltooide polisieverslag het egter ’n ander storie vertel. “Verskeie mediese verklarings en deskundige opinies is bekom wat daarop dui dat dit hoogs onwaarskynlik is dat ’n aanranding of besering van enige aard aanleiding kon gegee het tot die mediese toestand,” het polisiewoordvoerder kapt Louise du Plessis gesê. “Die klaer en sy pa is Donderdag oor die uitslag van die ondersoek ingelig. Hulle het geen beswaar uitgespreek nie.” Volgens ’n mediese verslag van ’n uroloog wat deur die polisie genader is om te help met die ondersoek, is Roux se geval nie ’n besering nie, maar eerder ’n mediese toestand bekend as ’n torsie. Dit vind plaas veral onder seuns in puberteit wanneer die testes draai en dit veroorsaak dan dat dit sy eie bloedtoevoer afsny. Indien daar nie vinnige mediese behandeling hiervoor ontvang is nie, moet die testes verwyder word. Sedert Roux se operasie was hy nie weer terug op die skoolbanke by Gimnasium nie. Hoërskool Gimnasium se skoolhoof, James Genis, het gesê dat hulle tevrede is met die bevindinge van die Paarl polisie. Hulle het self ’n interne ondersoek na die voorval geloods en die resultate hiervan sal binnekort bekend gemaak word. Verder word daar gewag vir ’n beslissing vanaf die staatsaanklaer oor of enige strafregtelike prosedures sal volg. * A police investigation has found that injuries which a learner of Paarl Gymnasium sustained were in fact not due to an assault, but a medical condition.
More
News
|