Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hond se ore wreed afgesny

Hond se ore wreed afgesny
 
2011-03-10

Lise Beyers

LEDE van die Wellington Dierebeskermingsvereniging het Vrydag met afsku op ’n hond afgekom wat se ore afgesny is.

Anne-Lida Schlemmer, voorsitter van die Wellington DBV, het gesê dat hulle Vrydagmiddag inligting ontvang het van ’n lid van die publiek oor ’n hond in Weltevrede wat erg mishandel is.

“Omdat ons inligting gehad het oor kriminele aktiwiteite wat by dié adres plaasvind, het ons die polisie gevra om ons daarheen te vergesel.

“Met ons aankoms by die adres in St Thomasstraat was ons gewalg toe ons op ’n jong pitbulterriër afkom wie se ore gedeeltelik afgesny is.

“Dit was baie erg en die ore het steeds gebloei en daar was ’n ware gevaar dat hulle sou ontsteek.”

’n Jong man en seun by wie die hond was, het eers ontken dat die hond aan hulle behoort. Hulle het aan die DBV gesê hulle weet nie wie se hond dit is nie, maar daarna het hulle beweer dat hulle die hond onlangs gekoop het en sy ore was reeds gesny.

Maar toe daar vir hulle gevra is om die DBV te wys by wie hulle die hond gekoop het, kon hulle hierdie vraag nie beantwoord nie.

“Ons het die hond gekonfiskeer en dadelik na Wellington Dierehospitaal geneem vir behandeling.”

Selfs veeartse hiér was geskok oor die hond se ore. Dit het by nadere ondersoek geblyk dat die ore met ’n stomp mes afgesny is sonder verdowing.

Maar verder was die jong hond van skaars vyf maande oud se toestand in die geheel goed.

“Rufus, soos wat ons die hond nou noem, is ’n baie liefdevolle klein pitbull. Hy sou waarskynlik grootgemaak word vir hondegevegte.”

Pitbulterriërs se ore word vir hierdie doeleinde gesny, vir ’n meer aggressiewe voorkoms van die hond, asook om dit moeiliker te maak vir sy teenstander om hom aan die ore te gryp.

Die praktyk van ore sny om penorent te staan, sowel as om sterte af te sny, is onwettig in Suid-Afrika.

Mense wat self hierdie prosedures tuis uitvoer, oortree dus die wet en stel honde in gevaar om baie siek te word.

“Ons is vasbeslote om hierdie geval van ernstige dieremishandeling tot in die hof te kry en te sorg dat diegene wat skuldig is, goed gestraf word.”

Hondegevegte bly ’n groot kopseer vir die DBV, juis omdat hulle weet dat hierdie onwettige praktyk beoefen word. Maar dit vind glo in uiterste geheimhouding plaas sodat dit byna onmoontlik is om diegene wat betrokke is, op heterdaad te betrap.

“Daagliks sien ons mense op straat met goedversorgde pitbull-terriërs en die vermoede is sterk dat hulle vir gevegte gebruik word. Volgens informante is daar baie geld betrokke by hierdie gevegte, maar ons kan nie hierdie skelms vastrek nie.”

Rufus sterk tans aan by die DBV en is oënskynlik ’n baie saggeaarde, liefdevolle pitbulterriër.

“Hy sou beslis nie sy eerste geveg oorleef het nie. Rufus bly nou in die besit van die DBV totdat die hofsaak afgehandel is.

“Maar ons sal intussentyd die moontlikheid oorweeg dat hy tydelik aangeneem word. Diegene wat hierin belang stel sal baie streng gekeur word.”

Rufus se behandeling het die DBV byna R700 uit die sak gejaag en weens hulle moeilike finansiële posisie, is dit ’n taamlike slag.

Enigiemand wat kan bydra tot hierdie kostes kan Anne-Lida skakel by 021-864-3726.

* Members of Wellington SPCA have come across a young pit-bull terrier whose ears have been cut off in preparation for dog-fighting.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za