Staan op jou regte as verbruiker
2011-03-10
Alida Buckle
Uiteindelik kon Aan jou Kant ’n goeie vertaling van die nuwe Wet op Verbruikersbeskerming van 2008 in die hande kry – dit is amptelik net in Engels beskikbaar. Dit is ’n “oortredinkie” van die einste wet as gekyk word na hoeveel keer die wet die verbruiker se reg om inligting in sy eie taal te ontvang, benadruk. Om net weer die doel van die wet, wat in April in werking tree, op te som: dit bevorder en beskerm verbruikers se ekonomiese belange, en verbeter die toegang tot en die gehalte van inligting wat nodig is om verbruikers in staat te stel om ingeligte besluite te neem volgens hul individuele wense en behoeftes. Verbruikers kan dus van einde Maart af aandring daarop dat kennisgewings, dokumente en visuele voorstellings wat aan verbruikers voorgelę, voorsien of vertoon word, in gewone en verstaanbare taal wees. Dit moet gerig wees op die gewone verbruiker met gemiddelde geletterdheidsvaardighede en minimale ondervinding van die betrokke goedere of dienste. Die gebruik van illustrasies, voorbeelde, opskrifte of ander hulpmiddels om die inligting te lees en te verstaan word aanbeveel. Vals, misleidende of bedrieglike voorstellings met die bemarking van goedere of dienste word verbied. Verskaffers mag nie deur woord of gedrag, direk of indirek verbruikers bedrieg met oordrywing, insinuasie of dubbelsinnigheid nie. Die wet is duidelik daaroor dat verskaffers ook nie iemand anders mag toelaat of ompraat om dit namens die verskaffer te doen nie. Iemand wat namens die verskaffer van goedere of dienste optree, mag nie valslik voorstel dat die produk of maatskappy ’n borgskap, goedkeuring of affiliasie het wat nie so is nie. Deur-tot-deur-bemarkers het al valslik voorgegee dat hulle optree namens nasionale instansies soos Eskom. Dit sluit in goedere of dienste, bestanddele, prestasiekenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte, borgskap of goedkeuring of dat die produk van’n bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model is, nuut of ongebruik is, opgeknap of teruggeneem is, indien dit nie waar is nie. Diensverskaffers sal die wet oortree indien hulle ’n verbruiker onder die indruk bring dat hul diens beskikbaar is of binne ’n gespesifiseerde tyd gelewer of verrig kan word en dit dan nie waar is nie. Enige verskaffer of bermarker sal moet ligloop. Stuur jou verbruikersbekommernis na aanjoukant@media24.com of faks na 086 509 6034.
More
News
|