Pilatus in Passiespel
2005-03-24
‘n PASSIESPEL met Pontius Pilatus as hoofkarakter, “Die Prokurator van Judea”, word Vrydagaand om 19:30 opgevoer in die NG Moederkerk Wellington as deel van die dorp se Christusfees.
Die toneelstuk, wat geskryf is deur Frieda de Villiers, fokus op die wroegings wat Pontius Pilatus gehad het om Jesus oor te gee om gekruisig te word.
Sy vrou, Claudia Procula, speel ook ‘n sentrale rol.
In die stuk, wat gebaseer is op deeglike geskiedkundige navorsing deur die skryfster, raai sy vir Pilatus ná ‘n droom eerder daarvan af om Jesus oor te lewer.
Volgens regisseur Louis du Preez is dit ‘n multimediaproduksie van sang, toneelspel en dans.
‘n Dansgroep van Begrivier Sekondęr, onder leiding van Celeste Pretorius, sal onder meer optree.
Die entoesiastiese spelers is almal lede van verskeie gemeentes in Wellington.
Die rolverdeling bestaan uit Fanie Marais as Pontius Pilatus, Cornelia du Preez as Claudia Procula, Rodger Adams as Kajafas, Cyril Arendse as Judas Iskariot, Nicolene Visagie as die diensmeisie Flavia, Danny Fransman as Joachem en Piet Visagie in die rol van Dawid.
Toegang is gratis, maar daar sal wel ‘n deurkollekte wees.
‘n Vorige Bybelgebaseerde stuk deur Frieda de Villiers, genaamd Nikodemus, is etlike jare gelede ook deur Louis du Preez op die planke gebring en is onder meer by die KKNK gesien asook op Christen Netwerk televisie.
De Villiers is ‘n gerekende skryfster van Struisbaai met onder meer talle kinderboeke en kortverhale wat uit haar pen verskyn het.
“Die Prokurator van Judea” word môreaand in die NG Moederkerk Wellington opgevoer.
More
News
|