DIE jaarlikse basaar van die NG Kerk Franschhoek vind plaas op Saterdag 12 Maart vanaf 09:30 in die kerksaal en is ’n hoogtepunt in die dorp.
Vanjaar trek dié gewilde basaar ’n Franse baadjie aan en is gereed om die plaaslike inwoners, besoekers en toeriste met vriendelike Franse flair te ontvang.
’n Mini-boules-kompetisie word aangebied waar die wenspan gratis ingeskryf sal word by die Bastillefees Boules-kompetisie in Julie. Die wenspan ontvang ook ’n pragtige wisseltrofee.
’n Veiling (11:00) sal aangebied word en spog met ’n paar uitsonderlike items soos ’n vliegtuigrit oor die vallei, ’n naweek vir twee in ’n plaaslike hotel, ’n skoonheidsbehandeling en ’n spesiale ete, onder meer.
Oudergewoonte kraak die tafels weer onder tradisionele vleisgeregte soos karoolam, boerewors, afval en skaappotjie.
Onder die groot, ou eikebome is die gesellige teetuin met watertandgebak, benewes die kleurvolle basaarpoedings, pasteie, kleinkoekies, brode en marktafel met vars vrugte en groente. Die kinders word getrakteer met ’n spesiale kindertafel, waterglybaan asook paintball-skyfskiet vir die ouer kinders.
Die gewilde Wit Olifant-tafel (08:00) is altyd vol verrassings en spotgoedkoop huishoudelike artikels.
Die opbrengs van dié basaar ondersteun ’n wye verskeidenheid van noodsaaklike dienste en gemeenskapsprojekte in Franschhoek en die vallei.
Kontak Karen Minnaar by die 021-876-2431 of by 083-976-5353.