Groot atletiek lê voor
2011-03-10
MÔRE en Saterdag gaan die Bolandse hoërskool-atlete, waaronder verskeie van die Paarl en Wellington se toppresteerders, alles uithaal om hul plek te bespreek vir die einde van die maand se SA Kampioenskappe. In die naweek se Wes-Kaapse hoërskole-byeenkoms op die Daljosafat-stadion, gaan die Bolanders meeding teen die WP en SWD. Atlete om dop te hou is Gustav Marais (Paarl Gimnasium) in die seuns o.14 spiesgooi. Gemeet in die ASA-prestasietabel, het Marais die afgelope naweek 948 punte ingesamel met ’n afstand van 54,08m. Frederik Louw, ook van Paarl Gimnasium, het die beste baanprestasie gelewer toe hy die 300m hekkies vir o.15 seuns in 40 sekondes afgedraf het. Kort op sy hakke was Ruan Gomes van Boishaai wat dit in 40,1 afgelê het. Cresendo Jacobs (New Orleans) behoort ook goed te doen in die 3000m o.19 seuns hindernis. Die SA kampioenskappe is van 24-26 Maart op die Daljosafat-stadion in die Paarl.
More
News
|