Boishaai maak skoonskip
2011-03-10
Sieb Sieberhagen
MET die somersport-uitslae in die sakkie vir Hoër Jongenskool (HJS), sal Hoërskool Paarl Gimnasium nou dag en nag moet oefen om later vanjaar die bordjies op die rugbyveld te verhang. Met verlede jaar se gelykopuitslag nog vars in die geheue, sal die voorbereiding van dié twee skole se eerste rugbyspanne goed dopgehou word. Daar is net nie keer aan Hoër Jongenskool Paarl nie wat twee weke gelede die swem (met een punt) en verlede week die tennis en krieket baie maklik gewen het. Op die krieketveld het dit vanjaar in die interskole glad nie goed gegaan met Gimnasium se spanne nie. Boishaai het net drie van die 18 wedstryde verloor en hul eerste span het op ’n drafstap met die Gimmies afgereken. Verlede Saterdag het die jaarlikse kragmeting tussen dié twee topskole van die Paarl plaasgevind en HJS het oortuigend gewen met 102 lopies. Met HJS se 211/4 na 50 beurte op die telbord is Paarl Gim ingestuur om te gaan kolf. Hulle kon slegs 109 lopies aanteken met al 10 paaltjies plat. Die beste bouler was niemand anders as HJS se kaptein, Rudolph Pollard, wat drie paaltjies geneem het. Die groentjie van die span, Marcke Cilliers, het die wilgerlat goed gebruik en het 49 lopies aangeteken. Op die tennisbaan het dit nog beter gegaan met HJS met al tien spanne wat as oorwinnaars van die baan gestap het. Vanjaar word daar gereken dat HJS se tennisspanne onder die top vyf skolespanne in Suid-Afrika is.
More
News
|