EK het gedink op ses-en-sestig weet ek ten minste wat is reg en verkeerd, betaamlik/onvanpas, goed/sleg, opgevoed/ barbaars.
Uitgesluit die feit dat ek lewenslank die domste teenwoordigheid in my kinders se lewe is, skyn dit asof alles wat ek geleer het deur voorbeeld, opvoeding en in die harde leerskool van die lewe ’n oefenlopie in futiliteit was.
Ek het gedink ’n hegte egtelike verbintenis is die beginpunt vir verantwoordelike ouerskap. Argaïese denke! Dit blyk ’n heel ander punt te wees wat niks te make het met verantwoordelikheid nie.
Waar anders kom die duisende onbeplande en verwaarloosde babas vandaan met kinder-ma’s en spook-pa’s?
Ek het ook gedink alle ouers besef die grondslag vir ’n gesonde samelewing moet sy beslag kry in ’n stabiele ouerhuis.
Altyd gedink kinders gaan skool toe vir toegewyde studie tot matriek. Denkfout; duisende leer nie, vertel leuens, plunder, vandaliseer, viktimiseer, molesteer, saboteer, protesteer, prosedeer, selfoonneer, sommige “vlotteer” en, ysingwekkend, sodomiseer…
Altyd gedink alle onderwysers tree deurentyd eties korrek op en is meester van hul vak. Nee; in die geledere is diewe, molesteerders, moordenaars, luies, wegblyers, onbevoegdes en vulgêre persoonlikhede.
Gelukkig nooit gedink dat matriekuitslae gemanipuleer kan word nie; dis ’n belediging vir enige mens met selfs ’n ondergemiddelde intelligensie. Is daar ’n laer IK? Is laasgenoemde nie dalk die probleem met baie van die leerlinge en selfs sommige amptenare van Umalusi en die Onderwysdepartement nie?
Moet dit nie die wekroep wees dat die uiters doeltreffende en noodsaaklike Apartheidsjare-skoolbeleid van Spesialeklas-onderrig weer geïmplementeer word nie?
Beteken Umalusi herder? Indien wel; moet hulle in Newton kom kyk hoe goed ’n herder van ’n trop is. Die oorgrote meerderheid beeste dwaal nie af en loop voor voertuie in nie. Hulle is produktief alhoewel weinig voorsiening daarvoor gemaak word.
Geen wonder die skooltrop kry nie rigting ná matriek nie.
Ek hoef nie te dink waarom op enige vlak van die staatsdiens en in besighede, baie werknemers selfs onbevoeg is om die mees elementêre handeling van dienslewering, soos groet en telefoniese kommunikasie, professioneel uit te voer nie. Wat nog te sê spel of hoofrekene doen. Dis klinkklaar!
Het gedink atletiekbyeenkomste in Dal Josafat word gereël volgens standaardtyd.Stiptelike aanvang, items in chronologiese volgorde volgens geskeduleerde tye, alle beamptes is kundiges en noodhulppersoneel help alle beseerdes.
Nou dink ek organiseerders en diegene in beheer beoefen tydsberekening volgens seisoenswisseling en die son en maan se stand; omdat Maja-gene afwesig is, misluk hulle.
Soos ek ook gedink het omdat ons elektrisiteit die duurste in die land is, hier iets positiefs moet manifesteer weens die oorverhaling van geld. Verkeerd!
Gedink ’n toeter en motorradio word onderskeidelik gebruik vir ’n noodgeval en vir die uitsluitlike plesier van die insittendes.
Nee; iemand binne die potensiële doodkis op wiele besluit dat almal buite hoorafstand die getoeter wil hoor en na die musiek wil luister. Die verskynsel moet ’n dieperliggende oorsaak hê.
Ek was bly toe mnr. Trevor Manuel destyds Minister van Finansies geword het. Sterk persoonlikheid met humorsin, charisma, verstand, goeie smaak.
Ek het toe gedink die regeerders beskik oor genoegsame breinkrag, wysheid, oordeelsvermoë, insig asook gesonde lojaliteit om sterk mense rondom hulle te vergader, gebruik en hóú. Weer eens verkeerd.
Nou weet ek Dries was reg toe hy gesê het: “Vroutjie jou probleem is, jy behoort nie te dink nie”.
Maar hierdie keer is ek reg wanneer ek dink dat die voorspellers van die datum vir die wêreld se eindtyd effe arrogant was, want die twee slimste mense in die wêreld, mnre. Julius Malema en Zwelinzima Vavi, was nie deel van die profetiese vereniging nie.