DANKIE dat die frustrasie rondom parstyd verby is. Die vervoer van wyndruiwe is eintlik ’n nagmerrie - soos jy met jou vrag druiwe by ’n robot stop, klim mense op die vrag om druiwe af te haal of af te gooi.
Is dit onwettig?
Waarom tree die polisie nie op nie? Ek verstaan dat ’n bevelvoerder aan die polisie gesê het om hul nie aan sulke onbenullighede te steur nie. Hulle moet hul tot meer ernstige misdaad wend.
Is dit nie ’n manier om misdadigers te kweek nie? As die polisie ongemagtig is om op te tree, dan is daar ’n baie groot fout met ons patetiese regstelsel.
As menseregte nog funksioneer, kan ek my druiwe van julle verhaal?
As een van die druiwestelers per ongeluk onder die vragmotor se wiele beland, wat word van die drywer of eienaar van die vragmotor?
Mag ek maar eers die druiwe gaan aflaai? Anders verdwyn die hele vrag.
Gawie Malherbe