INDIEN die munisipale bestuurder, dr. Kabanyane sy sin kry, gaan raadslede en amptenare wat meer as 90 dae agterstallig is op hul rekeninge, 50% van hul skuld afgeskryf kry.
In ’n omsendbrief moedig hy hulle aan om van die korting gebruik te maak en die helfte van hul skuld te vereffen voor 31 Mei en dus die ander helfte afgeskryf te kry.
Volgens wet mag ’n amptenaar of raadslid nie meer as 90 dae agterstallig wees nie en mag hul skuld ook nie afgeskryf word nie.
Is dit nou nie ’n klap in die gesig van die betalende publiek nie. Het enige van die publiek uitstel tot 31 Mei gekry of is u krag afgesny?
Eerstens word dieselfde raadslede wat voor verlede jaar en verlede jaar teen die DA-raadslede gestem het om hemelhoë belastings en tariewe in te stel, nou tegemoet gekom omdat hulle nie die twak kan rook wat hulle self in die pyp gestop het nie.
Tweedens word die amptenare wat alreeds volgens SA statistiek byna dubbeld soveel verdien as hul eweknieë in die privaatsektor, ook tegemoet gekom. Ek kan net byvoeg dat DA-raadslede wat geld aan die Munisipaliteit skuld, nie weer vir die DA as raadslede mag staan nie.
Vir elke rand wat afgeskryf word, moet iemand anders daardie rand inbetaal en dit is u, die leser van hierdie brief, wat buiten u huidige betalings, die tekort van die afgeskryfde geld op die begroting moet inbetaal.
Ek sal graag wil sien hoe die ANC raadslid en portefeuljehouer belas met finansies, mnr. JT Basson, dit aan die publiek gaan verduidelik.
Dit is verregaande dat die amptenare en die raadslede, waarvan die publiek se belastings en tariewe hul salarisse betaal, nou verligting moet vra terwyl die publiek op hul tande moet kners, onderling swets wanneer hulle minagtend behandel word by dienspunte, en kreun om finasieel te oorleef.
Deetlefs du Toit, LP
Kiesafdelingshoof, Drakenstein