EK wil reageer op die klagtes oor die fietsrenne in die Paarl. Ek het die voorreg gehad om vier jaar op die Tour de France te werk, was vyf jaar die toerdirekteur van die Boland Bank Internasionale Toer en het die infrastruktuur vir beide die Rapport-toer, Argus en Giro gedoen.
Tweedens is ek ook ’n inwoner in Paarl en besit ek ook ’n besigheid in die Hoofstraat (ek was nie betrokke in enige hoedanigheid by die aanbied van die afgelope fietsry gewees nie).
As ek die klagtes lees is dit insiggewend hoe die eie EK, wat MY skade is, MY ongerief vooropgestel word en dat dit dan bepalend is of die fietsry iets beteken vir die dorp of nie. Indien alle stadsrade geluister het na sulke persone dan sou Kaapstad nooit ’n Argus-toer gehad het nie, Frankryk nooit ’n Tour de France en New York nooit ’n New York marathon nie.
Met die Tour de France word die middestad van Parys se hoofpaaie vir twee dae gesluit vir enige verkeer, selfs aflewerings en boonop betaal elke stad/dorp wat die begin of einde van die toer se skofte wil aanbied miljoene rande aan die organiseerders vir die regte.
Die Munisipaliteit verdien ’n pluimpie vir die inisiatief en so ook groot komplimente aan die verkeersafdeling wat ’n foutlose einde vir die Cell C Toer verseker het, terwyl Sandton-verkeersafdeling se organisasie van ’n skof van dieselfde toer so chaoties was dat die skof gekanselleer moes word en nie net nasionale nie, maar ook internasionale nuus gehaal het. Dit is mos positief vir ons dorp.
Hoe dan vorentoe? Ek stem saam dat daar meer omvattende kommunikasie kon wees tussen besighede en die Munisipaliteit asook die organiseerders om die geleentheid te maksimeer vir Paarl. Ek droom van ’n sterk, verteenwoordigende en dinamiese forum waaraan alle besighede en akkommodasie-, toerisme- en wyninstellings behoort.
Met die eerste aansoek om die toer of enige ander groot geleentheid in Paarl aan te bied, betrek die Munisipaliteit die forum wat onmiddellik alle lede byeenkry vir die bespreking van die roete, tye ens.
Dan word mededingende akkommodasiepakkette saamgestel, restaurante op die roete word betrek, hardeware- en fietsrywinkels, motorwerkswinkels en petrolstasies en dokters verskaf ’n 24 uur kontaknommer aan alle spanne en die organiseerders vir enige noodgevalle.
En ons bied sommer ’n prettrap aan vir mense wat oor die Skiereiland en Boland heen kom om ’n verkorte roete te ry,waarna hul by die onderskeie restaurante en straatkroegies die laaste rondes van die Toer volg as toeskouers.
Ná afloop van die skof reël ons op ’n wynplaas ’n Bolandse braai as deel van die prysuitdeling van die Toer en bedank die organiseerders, beamptes en almal wat deelgeneem het en oorhandig ’n inligtingspakkie aan elke besoeker van alles wat die dorp hul kan bied en verseker hulle dat ons volgende jaar selfs hierop kan verbeter.
’n Droom? Dalk vir die klaers, maar omdat ek dit al gesien het en ervaar het in ander dorpe en stede beide in ons land asook oorsee, weet ek dat dit moontlik is, Onthou dat enige vooruitgang kom net met opoffering - nie ’n klaery en negatiewe insette nie.
Gerhard Meyer