DIE Kankervereniging van Suid-Afrika (Cansa) se Relay For Life deurnagpret word vanjaar op Saterdag 26 Maart by die Boy Louw-sportvelde in die Paarl aangebied.
Die Relay for Life gee almal in die gemeenskap die geleentheid om deel te neem aan die stryd teen kanker. Dis is ’n prettige, feestelike, deurnag spanbyeenkoms wat die bewusmaking van kanker na vore bring en noodsaaklike fondse genereer om kanker te bestry. Dit begin om 18:00 en duur tot die volgende oggend 06:00.
’n Span bestaan uit 10 tot 15 vriende, kollegas of familie, waarvan ten minste een lid van die span te alle tye (vir 12 uur) om die baan loop, want kanker slaap nooit nie. Die registrasiefooi per span is R500.
Vir elke span word ’n staanplek langs die veld geallokeer. ’n Maksimum van 70 spanne kan geakkommodeer word en tot dusver het ongeveer 50 spanne reeds ingeskryf. Cansa se mikpunt is dat Paarl se gemeenskap R220 000 moet insamel voor en tydens CANSA Relay For Life Paarl. Daar word van elke span verwag om voor die deurnagbyeenkoms fondse in te samel vir kankernavorsing en die mikpunt is dat elke span R3 200 se fondse moet probeer insamel. Die span wat die meeste fondse insamel, wen ’n naweek se wegbreek by ’n gastehuis in Paternoster.
Tydens die Relay For Life kry elke span verdere geleentheid om fondse te genereer, deur enige tipe versnapering te verkoop vanaf hulle stalletjie. Elke span het ook ’n verantwoordelikheid ten opsigte van kankerbewusmaking en kies ’n tipe kanker om te inkorporeer by die tema van hulle span.
Tydens die Relay For Life is daar verskeie pryse op die spel. Die grootste gedeelte van die aand heers ’n feestelike atmosfeer, met verskeie gaskunstenaars wat optree, en verskeie aktiwiteite vir die kinders.
Die spesiale gaste vir die aand is kankeroorwinnaars. Tydens die openingseremonie voltooi kankeroorwinnaars ’n ereronde om die baan. Ná sononder vind die Luminaria-seremonie plaas, wat ’n baie gewyde oomblik is waartydens hulde gebring word aan hulle wat die stryd teen kanker verloor het of steeds terugveg. Tydens hierdie seremonie word kerse reg rondom die veld aan die brand gesteek – die kerse word geplaas in Luminaria-sakkies wat voor die tyd gekoop word teen R10 per sakkie, versier en opgedra word aan ’n geliefde wat reeds gesterf het of ernstig siek is.
Skakel Minette van der Walt by 083-350-3531 of Dirk Burger by 083-647-4723.