Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kavaliers val vas teen Leeus

Kavaliers val vas teen Leeus
 
2011-03-17


DIE Goue Leeus het die Boland Kavaliers met 32-10 afgeransel in ’n Vodacombeker-wedstryd wat verlede Saterdag op die Gene Louw-rugbyveld op Moorreesburg plaasgevind het.

Met die telling 10 elk met sowat 65 minute se speeltyd verstreke, het die twee spanne aanvanklik goed teen mekaar opgeweeg. Drie drieë deur die Leeus in die laaste kwart van die wedstryd het egter Boland se doppie geklink.

Boland se Willie le Roux het eerste punte aangeteken met ’n strafdoel in die 5de minuut van die wedstryd.

Skaars 5 minute later het die Leeus se Tonderai Chavhanga ’n drie gaan druk om sy span se neus voor te kry. Springbok losskakel, André Pretorius, se doelskop was in die kol.

Die res van die eerste helfte sal onthou word vir verbroude kanse aan beide kante, want vir 30 minute het beide spanne goeie geleenthede op die aanval geskep, maar sonder om een keer suksesvol af te rond.

Sowat 5 minute ná lemoenvattyd het die Kavaliers se agtsteman, Zandré Jordaan, uiteindelik die Leeus se verdediging oopgevlek, om vir Bolla Conradie weg te stuur vir ’n drie. Boland se heelagter, Willie le Roux, het die drie verdoel.

Pretorius (Leeus) se strafdoel in die 50ste minuut het die twee spanne op 10-10 gelyk laat trek.

Sowat 5 minute later was Jordaan weer in die kollig, maar dié keer vir die geelkaart wat hy ontvang het vir onwettige spel.

In Jordaan se afwesigheid kon die Leeus twee keer vyfpunters aanteken deur onderskeidelik Alwyn Hollenbach en Jonathan Mokuena.

Boland het die res van die wedstryd moedig probeer om verlore aansien te herwin, maar kon eenvoudig nie terugslaan nie, nie eens toe die Leeus se Dawid de Villiers aan die ontvangkant van ’n geelkaart was nie.

Die Leeus het die laaste sê van die wedstryd gehad toe Dries van Schalkwyk een minuut voor die eindfluitjie die doodskoot geplant het.

Hierdie naweek reis die Kavaliers na Welkom om teen die Griffons kragte te meet.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za