Young Peoples val weer vas
2011-03-17
DIE SRRadiators Young Peoples se eerste krieketspan het verlede naweek weer vasgeval. Hulle moes 190 lopies vir ’n oorwinning aanteken, maar het 46 lopies kortgekom in hul wedstryd teen Van der Stel. Die boulers, Clint Philander (2/17 in 6bb), Lorenzo Jacobs (2/30 in 9bb), Edwin Jacobs (3/22 in 4bb) en Lee-John Julies (1/26 in 9bb) het goed geboul, terwyl Herschelle Barron (45) en Edwin Jacobs (22) moedig probeer het om die wedstryd te red. Verlede Sondag het die span gereis na die Weskus, maar het ook nie veel beter gevaar nie. Hulle kon slegs 95 lopies aanteken, met Tom-Ross Fortuin (34) wat goed gekolf het. Vredenburg/Saldanha eindig op 96/4, met Lee-John Julies (2/28 in 9bb) en Jarier Alexander (2/24 in 7bb) wat moedig probeer het met die bal. Die tweede span het wel teen Mbekweni met 6 paaltjies geseëvier in hul Pro20-wedstryd op Daljosafat. Mbekweni word uitgeboul vir 90 lopies, danksy Marlin Carolissen (1/14 in 4bb), Kurt Festus (1/17 in 4bb) en David Gabriels (2/12 in 4bb). Die Tiere slaan die wenlopies in die laaste boulbeurt (94/4), danky Festus (19 n.u.n) van slegs 8 balle. Sondag het dié span egter die knie gebuig en met 20 lopies verloor teen Paarl-Oos II op New Orleans. Peoples moes 140 lopies vir ’n oorwinning aanteken. Dean Hendricks (3/15 in 4bb) en Hubert Ontong (2/20 in 4bb) het goed geboul. Peoples eindig op 120/7 ná 20 boulbeurte. .
More
News
|