Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wellington skop af met deur-tot-deur rommelherwinning

Wellington skop af met deur-tot-deur rommelherwinning
 
2011-03-17


VIR inwoners van Wyk 2 in Wellington, is dit nou maklik om vullis te herwin, want Dinsdag stel die Drakenstein Munisipaliteit ’n gratis herwinningsdiens in, wat herwinbare materiaal weekliks reg voor elke inwoner se deur kom oplaai.

Om deel te word van die nuwe Besin-en-Herwin-roetine hoef inwoners slegs hulle herwinbare materiaal gedurende die week in ’n aparte deursigtige sak te plaas wat gratis deur die Munisipaliteit aan hulle verskaf sal word.

Wanneer hulle dan hulle roldromme met die gewone vullis uitsit, plaas hulle eenvoudig die sak bo-op of langs die drom.

Wanneer díé rommel verwyder word deur die herwinningsvragmotor, word ’n nuwe plastieksak agtergelaat vir die volgende week se afval.

Dit sluit in plastiekhouers, skuimplastiek, blikke (uitgespoel) en bottels (uitgespoel en sonder deksels of proppe) asook kartondose (wat platgedruk moet word).

Die loodsprojek in Wyk 2 (Berg-en-Dal, Ranzadale en ander woonbuurte suid van Kerkstraat, tot by Fonteinstraat) beoog om enige moontlike probleme met die nuwe herwinningsdienslewering uit te stryk voordat dit na ander wyke in die Drakenstein munisipale gebied uitgebrei word.

Raadslid Johan von Wielligh sê dat inwoners reeds geruime tyd versoeke vir ’n deur-tot-deur-herwinningsdiens gerig het.

“Ons kan eenvoudig nie bekostig om voort te gaan om 300 ton se vullis per dag vir storting te genereer, soos wat tans die geval in die Drakenstein munisipale gebied is nie.”

Hy is vol vertroue dat die Drakensteingemeenskap hulle volle gewig agter die Besin-en-Herwin-program sal gooi en ’n sukses daarvan sal maak soos wat talle ander Munisipaliteite in die Wes-Kaap reeds gedoen het.

“As die inwoners van Hermanus en omliggende gebied byvoorbeeld ’n toekenning met hulle deur-tot-deur herwinningsdiens kon losslaan, kan ons dit ook doen.”

Volgens Von Wielligh is een van die groot voordele wat ’n grootskaalse deur-tot-deur-herwinningsprojek inhou, die werksgeleenthede wat by die terreine waar die herwinbare material gesorteer word, geskep word.

Hoe beter die deelname van die inwoners van Wyk 2, hoe vinniger kan die herwinningsdiens uitgebrei word na die res van die Drakensteingebied.

Volgens die Munisipaliteit skep herwinning sewe maal meer werkgeleenthede as storting van dieselfde vullis. Boonop verhoed elke ton herwinde papier dat ’n ton se skadelike koolstofdioksied-kweekhuisgas in die atmosfeer ontsnap.

Die voorsitter van die Wellingtonse Sakekamer, Eric Marais, sê die sakekamer gee hul volle ondersteuning aan die herwinningsprojek.

“Ons is reeds op geleende tyd. Daar is nie meer nuwe grond vir vullisstorting beskikbaar nie en om ver weg van ons dorpe grond te koop, is eenvoudig onbekostigbaar vir belastingbetalers weens die vervoerkoste.

“Grootskaalse herwinning is die enigste antwoord en ons moedig ons gemeenskap aan om hierdie geleentheid ten volle te benut.”

Om dit vir inwoners maklik te maak om te herwin, het die munisipaliteit ’n kitsgidspamflet saamgestel wat duidelik uiteensit wát herwin kan word en wat níe.

Vir vinnige verwysing is ’n yskasmagneet met ’n opsomming van die inligting ook beskikbaar.

Ander vullis kan steeds afgelaai word by die oorlaaistasie in Distillerystraat (Paarl) en die vullisterrein op Wellington.

Vir navrae, terugvoer en nog inligting, kontak Drakenstein Munisipaliteit by 021-807-4715 (24 uur), besoek www.drakenstein.gov.za, of skakel Enviro Smart Waste Management by 072-306-3880.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za