Besteel: nou's horlosie skielik goud
2011-03-17
Alida Buckle
NIE net kan ’n versekeringsmaatskappy jou laat terugbetaal nie, hulle kan ook keer dat jy by enigiemand anders versekering uitneem en jou ook aan die polisie oorhandig, indien jy uitgevang word dat jy ‘n vals versekeringseis deurgesit het. Volgens Willem Smith, hoofbestuurder van Old Mutual se iWYZE-versekering vir waardevolle items, is eerlikheid maar altyd die beste keuse. Vir diegene wat dalk daaraan dink om ‘n vals eis in te sit ... lees die verhaal gegrond op ‘n ware gebeurtenis, soos aangestuur deur Pippa Brak, Chillibush. Bennie Coetzee (nie sy regte naam) het vir korttermyn-motorversekering aansoek gedoen en is gevra dat ‘n erkende ondersoekmaatskappy sy motor ondersoek as deel van die aansoekproses. Hy het spoedig die sertifikaat aangestuur en daarna getrou sy premie betaal. Ses maande later het Bennie ‘n motordiefstaleis ingegee. Hy het gesê dat hy sy motor op ‘n spesifieke plek parkeer het en dat dit gesteel was toe hy terugkeer. Soos gewoonlik het die versekeringsmaatskappy die eis ondersoek en uitgevind dat: Bennie die motor gekoop het met kontant, dus was daar geen verkoopsrekord of huurkontrak nie; Hy die motor in ‘n ander stad gaan koop het, maar nie presies “kon onthou” waar hy die verkoper ontmoet het nie. Hy het ook nie meer die verkoper se naam of nommer gehad nie; Toe hy om die motor se aansluitsleutel gevra word, het hy beweer dat hy dit misplaas het. Gekonfronteer met al die verdagte beweringe, het Bennie uiteindelik erken dat die motor nooit bestaan het nie en dat hy die oorspronklike sertifikaat vervals het. Volgens Smith beskou mense nie versekeringsbedrog as ‘n ernstige oortreding nie en eis hulle maklik vir items wat hulle nog nooit besit het nie, vermeerder hulle eise of maak hulle insidente op en eis dan vir die “verlies”. Dit is hoekom versekeringsmaatskappye élke eis so deeglik bekyk. As vals eise toegestaan word, sal premies net meer word en eerlike mense daardeur duurder betaal. Die deeglike bekykery het egter in die publiek se oë die persepsie geskep dat versekeringsmaatskappye omtrent nooit uitbetaal nie, al betaal die individu getrou elke maand hul premie. Maar Smith sê dit is nie waar nie. “Solank die eis eg en wettig is, én die kliënt het by die polis-termes en voorwaardes gehou (fynskrif!) sal dit uitbetaal word. Gaan lees dus jou bestaande dokumente deeglik deur, maak seker dat jy verseker word soos wat jy gedink het jy is. Stuur jou verbruikerskwessie na aanjoukant@media24.com
More
News
|