Skrif aan die muur vir Afrikaans
2005-10-13
DIE Paarliet Pieter Kilian (Paarl Post 6 Oktober) is seker nie ernstig met sy eng definisie van Afrikaners as mense wat “by voorkeur Afrikaans praat en ’n passie het vir die bevordering van die Afrikaner se taal, kultuur en tradisie...” nie. Het sy definisie byvoorbeeld betrekking op alle rasse?
Die Afrikaanse taal kan nie sonder die bydrae van “Kleurling”-sprekers voortbestaan nie. Hulle wat die taal (Afrikaans) uit die Nederlands omvorm het, stel nie meer belang in Afrikaans praat nie, en Engels word al hoe meer hul kinders se huistaal.
Mnr Kilian en Meinhard Peters (Die Afrikaner 29 September) sal ook nie versoen kan raak nie, wanneer laasgenoemde vra: “Word Afrikaners werklik aanvaar met alles wat hulle is met hul taal, kultuur en selfs hulle Christenskap?” Waarop hy self antwoord: “Nee, beslis nie.”
My raad aan albei is om Dr Coenie Burger (Beeld 7 September) se stelling te aanvaar: “Taal en kultuur is ondergeskik as jy ’n Christen is.” Dit geld natuurlik ook vir ander gelowe en tale. Die skrif is aan die muur.
TPA Carolissen
More
News
|