Motordief vas ná wilde jaagtog op die N1 Kaap toe
2011-03-17
Lise Beyers
TWEE Isuzu bakkies is verlede week binne twee ure gesteel op Wellington, maar een van hulle is ná ’n wilde jaagtog op die N1 aan sy eienaar terugbesorg. Die eerste voorval het Vrydag omstreeks 10:45 plaasgevind, toe ’n groen dubbelkajuit Isuzu-bakkie in die parkeerterrein van Markplein-winkelsentrum spoorloos verdwyn het. Omstreeks 13:00 het ’n wit Isuzu-bakkie ook vanuit die parkeerterrein van Spar verdwyn. Gelukkig het die eienaar van dié voertuig dadelik die Wellington polisie se middedorpsektor geskakel om hulle in te lig van sy gesteelde bakkie. Binne oomblikke is ’n noodoproep gemaak aan polisie dwarsoor die Wes-Kaap in verband met die gesteelde bakkie. Hierdie oproep is ook ontvang deur lede van die blitspatrollie wat kort hierna ’n voertuig opgelet het op die N1 naby Klapmuts, wat ooreengestem het met die beskrywing van die gesteelde voertuig. Toe die voortvlugtige die polisievoertuig agter hom gewaar, het hy oor die middelmannetjie gery en teen aankomende verkeer ingery. ’n Uiters gevaarlike jaagtog het tot byna by die Okavango-afrit plaasgevind, met aankomende motors wat oral langs die N1 afgetrek het na veiligheid. Wonderbaarlik het geen botsings in hierdie omstandighede plaasgevind nie. Toe die voortvlugtige weer oor die middelmannetjie ry, het hy in sagte sand vasgesit en is deur die polisie aangekeer. Phumzile Payi (47) van Brackenfell is in hegtenis geneem. ’n Woordvoerder van die polisie, insp Celeste Barkhuizen, het gesê dat hierdie sukses te danke is aan die spoedige optrede van die slagoffer, wat dadelik die polisiesektor- nommer geskakel het. “Ons vra dus die publiek om hulself bekend te maak met hul sektorpatrollievoertuig se selfoonnommers. Sodoende sal hulle nóg meer spoedige diens van die polisie ontvang.”
More
News
|