Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Slang jaag motoris op hol

Slang jaag motoris op hol
 
2011-03-17

Lise Beyers

’n MOTORBESTUURDER het vandeesweek die skok van sy lewe gehad toe ’n slang van onder sy motorkap sy verskyning gemaak het.

Die man was vanaf Kaapstad na Malmesbury onderweg, toe ’n slang naby Wellington, in die ry, sy kop teen die voorruit begin uitsteek het.

Die bestuurder het paniekbevange by Jumbo Fitment Centre in Wellington Hoofstraat stilgehou om hulp te soek. Teen hierdie tyd het die slang, al sissend, weer binne-in die enjin gekruip en toe by die deur se raamwerk uitgepeul.

Maar toe hy die skare mense, wat uit nuuskierigheid om die motor saamgedrom het, gewaar het, het hy weer skuiling dieper binne die panele van die motor gesoek. Die eienaar van die motor het personeel van die bandehandelaar gevra of hulle nie die motor op ’n hyser kon plaas nie, om sodoende ontslae te probeer raak van die slang.

Maar, vertel Phillip Coetzee van Jumbo, hy was nie bereid om hierdie kans te waag nie, uit vrees dat die slang binne sy fabriek sou ontsnap.

Hulle was onder die indruk dat dit ’n uiters giftige Kaapse Kobra kon wees.

Coetzee het wel vinnig op sy voete gedink en die plaaslike slangman, Danie Malherbe, geskakel.

Malherbe, wat ’n hanetree daarvandaan woon, was blitsig daar. Maar soos wat die slang al hoe meer bedreig gevoel het, het hy dieper in die motor weggekruip. Ná ’n gesukkel van 20 minute het Malherbe die kalant darem uiteindelik aan sy stert beetgekry en uit die enjin verwyder. Die slang is in veilige bewaring geplaas en die motorbestuurder kon met ’n geruste hart voortgaan met sy pligte - sonder dat hy ooit sy naam verstrek het.

Die slang van ’n glibberige een meter lank, blyk toe ’n redelik onskadelike molslang te wees.

Malherbe het gesê dat, hoewel die slang nog jonk is en nie giftig nie, kan hy wel baie seer pik.

Die molslang is na die slangpark in Paarl-Noord geneem, waarna CapeNature sal besluit waar hy losgelaat sal word.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za