Rommelstrooi by maar ons voorland
2005-10-13
NADAT ek Gatstamp se brief (29/9) gelees het oor die stand van ons paaie, kan ons ook maar Rommelstraat, Papierstraat en nog ‘n paar ander byvoeg. Die volgende insidente was bewys daarvan.
Voor die Oase Dienssentrum sit meneer agterin die Munisipale voertuig (C10933) en koerant lees. Nadat hy die laaste hap van sy lekkergoed geëet het, wat maak hy met die papier? Hy gooi dit net daar in die straat.
By die supermark stop ‘n afleweringsvoertuig. Voordat meneer uitklim om die drywer te wys hoe ver hy kan terugry, gooi hy die appelstronk net daar in die parkeerterrein terwyl die asdrom vyf tree verder staan.
Op die parkeerterrein onder die bome voor ‘n winkelsentrum in die middedorp staan ‘n seun en nadat hy die pastei klaar geëet het, hoef niemand seker te raai waar die papier land nie. ‘n Asdrom is ook binne sig.
En twee tree verder voordat die polisievoertuig in die Hoofstraat indraai, land die sigaretstompie toe nie in die asbakkie nie. Nou kan elkeen seker maar sy eie som maak en dan is ‘n Einstein nie nodig om vir ons te vertel hoekom ons dorp so lyk nie!
Die gemors is mos veronderstel om deur iemand anders opgetel te word, skenk aandag dalk aan Psychic se voorstel geskenk word om mense wat munisipale skuld het, afslag te gee vir rommel optel.
Chris Moller
More
News
|