Verkoop van hierdie nywerheidserwe pla
2005-10-13
NYWERHEIDSERWE vir ontwikkeling is op Donderdag 14 April in die Paarl Post en Die Burger geadverteer en die aansoekvorms en tendervoorwaardes was by Drakenstein Munisipaliteit verkrygbaar.
By navraag het ‘n senior munisipale amptenaar dit onomwonde gestel dat die projek juis bedoel is om aan individue ook geleentheid te bied om nywerheidseiendom te bekom, daarom het die tendervoorwaardes dan ook bepaal dat ‘n geskikte gebou binne 24 maande na registrasie op die persele opgerig moet word.
Ten einde te verhoed dat nie met die toegekende erwe spekuleer word nie, is verder bepaal dat indien sodanige gebou nie tydig opgerig is nie, die eiendom aan die munisipaliteit terugverkoop moet word.
Die sluitingsdatum vir die tenders was op Dinsdag 24 Mei om 10:00. By navraag op Donderdag 26 Mei by dieselfde amptenaar is bevestig dat die reaksie nie so oorweldigend was as wat verwag is nie en dat alle aansoekers moontlik ‘n toekenning sal kry.
By navraag op 23 Junie is net mooi die teenoorgestelde bevestig, naamlik dat daar so baie aansoeke ontvang is, dat die Raad ‘n siftingsproses van stapel sal moet stuur.
By navraag op 29 Julie is bevestig dat die siftingsproses steeds besig is en is ook verwys na ‘n tendervoorwaarde wat bepaal dat die Raad homself die reg voorbehou om die toekenningsproses vir ‘n periode van 90 dae, dit is tot 24 Augustus, oop te hou.
Dit is ook bevestig dat die proses definitief teen die datum afgehandel sal wees.
By navraag op 5 September is weer bevestig dat die siftings steeds aan die gang is en die proses binne die volgende week afgehandel sal wees.
Tot op datum is daar nog geen teken van finalisering nie en doen kommerwekkende gerugte intussen die ronde dat ‘n konsortium, in samewerking met sekere raadslede, onder die vaandel van swart bemagtiging, besig is om die voorgenome projek vir eie gewin te kaap.
Ek wil vertrou dat dit nie die geval is nie, maar miskien moet ons agbare Burgemeester of Munisipale Bestuurder vir die belastingbetalers van Drakenstein Munisipaliteit ‘n slag duidelikheid gee oor wat aan die kook is met die projek en bevestig dat toekennings wel regverdig en volgens tendervoorwaardes geskied, voordat die hele spul aanbrand!
Wil ook graag bemagtig wees
Die burgemeester, Herman Bailey, reageer: Die Raad van Drakenstein het in sy besluit oor die verkoop van nywerheidsgrond onderneem om ‘n paar doelwitte te bereik:
1. Plaaslike ekonomiese bemagtiging, en vir dié rede is die grond teen bekostigbare pryse beskikbaar gemaak teen R15 m² vir ongedienste grond en R40 m² vir gedienste grond.
2. Dat voorkeur verleen is aan arbeidsintensiewe ondernemings ten einde werkskepping te bevorder. Hierdie is 'n geleentheid vir regstelling.
3. Om nuwe beleggers na ons nywerheidspersele te lok ten einde te voorkom dat bestaande nywerhede herhaaldelik bevoordeel word. 4. Die Raad ag dit as sy plig om toe te sien dat voorheen benadeelde persone ook toegang sal kry en daarom word van tenderaars verwag om aan te dui of hul ondernemings ‘n Swart Ekonomiese Bemagtigings-komponent insluit of watter planne in dié verband bestaan.
Die rede waarom die toekennings nog nie afgehandel is nie, is omdat gebrekkige inligting op die tendervorms die proses vertraag ten opsigte van die kriteria wat ons graag wil nastreef.
More
News
|