Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vrugtefabriek maak inwoners die hoenders in

Vrugtefabriek maak inwoners die hoenders in
 
2011-03-24

Johan Nel

DIE ongelukkigheid onder inwoners wat rondom die sap-konsentraatfabriek in Railwayweg en Industrialstraat in Wellington woon oor wat hulle as onaanvaarbare hoë geraasvlakke bestempel, is besig om toe te neem – ondanks versekeringe deur die eienaars van die fabriek, Boland Pulp, dat alles moontlik gedoen word om geraasvlakke in en om die fabriek binne perke te hou.

Volgens inwoners van huise langs Stasiestraat, Industrialstraat en vier straatblokke verder tot by St Crispinstraat, is die skril fluitgeluid van die toerusting in die fabriek wat vog uit die vrugtekonsentraat onttrek, maar een van die dinge wat die lewe vir hulle moeilik maak. Die swart roet wat van tyd tot tyd deur die hoë toring van die fabriek se stoomketel uitgestoot word, is ’n ander lastigheid.

Huisvrouens sê hulle is voortdurend besig om die swart stof van hul stoepe en meubels af te vee. Die dakgeute lê volgens hulle ook voortdurend dik van die roet.

Fernando Lage, besturende direkteur van die fabriek, sê dat hy en sy personeel alles in hul vermoë doen om die geraasvlakke in en om die fabriek tot ’n minimum te beperk.

“Die fabriek lê in ‘n gebied wat as nywerheidsgebied gesoneer is. Op die oomblik maak die regulasies vir nywerheidsgebiede voorsiening vir ’n geraasvlak van tot by 80 desibel. Die jongste toetse deur ’n onafhanklike organisasie toon dat die geraasvlakke rondom ons fabriek te alle tye onder 59 gehou word.

“Een van die maatreëls wat ons onmiddellik ingestel het toe daar oor hoë geraasvlakke gekla is, was om nie meer die fabriek se stoomketel snags meganies te stook nie omdat dit wel in die nanag ’n geraas gemaak het.

“Die vuur word deesdae vanaf 22:00 tot soggens met die hand gestook om die geraasvlakke so laag as moontlik te hou.”

Altesaam 31 bewoners van woonhuise in die onmiddellike omgewing van die fabriek het aan die begin van 2009 ’n petisie onderteken waarin hulle by die distriksmunisipaliteit gekla het oor die hoë geraasvlakke, vrugte-pulp wat stormwaterpype verstop, erge lugbesoedeling, ongelisensieerde vurkhysers wat in die strate om die fabriek ry, en toenemende verkeer in die strate om die fabriek as gevolg van die groeiende aantal vragmotors wat vrugte na die fabiek bring.

Lage se verweer is dat hulle ná hierdie vertoë in voortdurende gesprek met die munisipaliteit is om geraasvlakke op ’n aanvaarbare vlak te hou; dat hulle voortdurend besig is met verstellings aan die skoorsteen van die stoomketel om ontbranding so skoon as moontlik te hou; dat hulle fabriek oor die afgelope klompie jare van ’n klein verpulpingsaanleg gegroei het tot ’n tamaai onderneming wat op groot skaal werk skep vir Wellington se mense; dat die fabriek ’n nuwe afsetpunt vir vrugteboere geskep het en dat die fabriek deesdae landwyd en wêreldwyd sapkonsentraat aan feitlik alle groot vrugtesapfabrieke voorsien.

Hy sê hy kan veral nie die aantyging dat die fabriek onhigiëniese toestande in die omgewing skep, aanvaar nie.

“Ons het ou, stowwerige pakhuise om die fabriek opgekoop en omskep in plekke waar ons konsentraat onder absoluut higiëniese toestande onttrek en gestoor moet word.

“Twee laboratoriums in die fabriek monitor die higiëne in die geboue voortdurend. Omdat ons ook die heel eerste fabriek in Suid-Afrika ontwikkel het wat vrugtekonsentraat vir gebruik deur kinders verpak, moet ons toesien dat baie hoë vlakke van higiëne te alle tye op en om ons perseel gehandhaaf word.

“Ons het ’n voltydse span skoonmakers aangestel wat dag en nag nie net ons geboue nie, maar ook die sypaadjie en die strate om die geboue skoon en rommelvry moet hou.

Ondanks die versekeringe stroom klagtes oor hoë geraasvlakke en besoedeling steeds na die Drakenstein Munisipaliteit, wat die saak steeds ondersoek.

Een van die klaers sê dat sy reg langs die fabriek woon en die fluitgeluid van die waaiers wat vog uit die vrugtekonsentraat onttrek, het beslis nie afgeneem sedert sy en ander huisbewoners daaroor begin kla het nie.

“Ons eerste klagtes is in 2008 na die munisipaliteit gestuur. Daar word gesê dat die geraasvlakke binne aanvaarbare vlakke is maar sedert 2008 het dit net erger en erger geraak.”

’n Ander inwoner van Stasieweg sê dat hy nou maar moet aanvaar dat die lawaai langs sy huis nooit einde gaan kry nie. Hy en sy vrou is besig om planne te maak om hul huis te verkoop en om na die Karoo uit te wyk.

Ander omliggende huisbewoners kla oor veral roet wat deur die vuur in die fabriek se stoomketel veroorsaak word en sê dat dit prysenswaardig is dat die fabriek die sypaadjies langs die fabriek so gereeld vee, maar as hulle dit nie doen nie, sal die sypaadjies binne dae oortrek wees met die roet wat uit die skoorsteen oor die gebied afsak.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za