Roses vroeg in seisoen op wenpad
2011-03-24
DIE 2010 kampioen-klubspan in die Premierliga van die Boland Rugby-unie, Roses United, het Saterdag op sy tuisveld in sy eerste ligawedstryd die span van Darling oortuigend met 39-12 verslaan. Die Rose het rustyd met 11-0 voorgeloop. Die wedstryd is, ten spyte van die versengende hitte, teen ’n geweldige tempo gespeel. Die besoekers het in die eerste paar minute van die eerste helfte verwoed aangeval, maar Roses het puik verdedig en daarna stadig maar seker die botoon begin voer. Dit is veral voorlangs waar die Rose hul teenstanders laat bontstaan het. Gerhard Goosen (slot) en Sandile Sijaji (stut) het voorlangs ’n barshou gespeel. Ná rustyd het die Wellingtonners se agterlyn die krane behoorlik oopgedraai en veral die twee vleuels, Gavoron Sherman en Justin Morgan, het uitstaande spel gelewer. Sherman se fyn aanvoeling het gelei tot sy twee puik drieë. Morgan se goeie spel is ook beloon met ’n drie. Die Rose se skrumskakel, Percival Williams, het met uithalerspel sy tweestryd met Neil Papier loshande gewen. Die Rose se ander drieë is deur Sandile Sijai en Tertius Nel onderskeidelik gedruk. Williams was suksesvol met drie doelskoppe en twee strafdoele. Wayne Matthee, losskakel, was suksesvol met een doelskop. Vir die Rose lê harde werk nog voor aangesien hulle Saterdag heeltemal te veel strafskoppe afgestaan het. Die afrigtingspan sal hierdie week ook hard moet skaaf aan die skrums waar dinge Saterdag nie so vlot verloop het nie. Die Rose se tweede en derde span het hulle onderskeie wedstryde ook gerieflik met 64-12 en 22-13 gewen. Roses United pak eerskomende Saterdag die span van Ceres op Pelikaanpark in Wellington. Die afskoptyd vir die eerste wedstryd is 13:30. Die hoofwedstryd begin om 16:00.
More
News
|